Hard newsNews

Jacques Meiring roep Bossies Community Justice vaarwel

Jacques se opvolger is reeds aangewys en het ook jare se ervaring in misdaadbekamping. BCJ het aangedui dat hy volgende jaar aan die gemeenskap bekendgestel sal word

MBOMBELA – Bossies Community Justice (BCJ) kry volgende jaar ‘n nuwe operasionele bestuurder.

Jacques Meiring is al vier jaar sinoniem met misdaadbestryding in die stad en het in hierdie tyd ‘n noemenswaardige bydrae gelewer om die stad en sy mense veilig te hou.

Hy het in Mei 2012 die leisels by Albert Gryvenstein oorgeneem. Jacques het egter nou besluit dat dit tyd is om ‘n nuwe uitdaging aan te pak en het gister met Laevelder hieroor gesels. Hy gaan sy eie sekuriteitsmaatskappy op die been bring wat verskeie dienste sal bied. Divergent Ops gaan korporatiewe en residensiële sekuriteitsdienste bied wat ondermeer monitering, kameras, alarmstelsels en patrollies sal behels.

Lees ook: Aan diens saam met Bossies Community Justice

“Ek het ‘n punt in my lewe bereik wat ek na myself en my gesin moet kyk,” het Jacques verduidelik. Hy en sy vrou, Claire, is die trotse ouers van Gabriel wat onlangs sy eerste verjaarsdag gevier het. “Die gemeenskap van Nelspruit lê my steeds baie na aan die hart, maar ek moet op die ou end ‘n pensioen ook kan verdien.” Jacques het ‘n ouer seun en Claire het verduidelik dat hulle hom weens finansiële redes nie universiteit toe kon stuur nie. “Ons sal graag in die posisie wil wees om vir Gabriel te kan stuur,” het sy bygevoeg.

Lees ook: Little angel an answer to Meiring family’s prayers

Jacques is opgewonde oor die nuwe hoofstuk in sy lewe. “Divergent Ops sal tegnologies meer gevorderd wees. ‘n Interpersoonlike verhouding tussen die eienaar en kliënte bly egter baie belangrik. Hulle gaan nie ‘n beheerkamer skakel in die geval van nood nie. Elke oproep sal steeds deurkom na my en ek sal die nodige mense ontplooi.” Ander kenners in die sekuriteitsbedryf sal as sy vennote dien en Jacques sê dat hulle teen 1 Februarie operasioneel sal wees.

BJC het in ‘n verklaring gesê dat 2015 vol hoogtepunte en suksesse was. “Ons het baie meer tonele bygewoon en operasies onderneem as in 2014 en opnuut bewys dat die effektiwiteit en toeganklikheid van BJC elke jaar toneem. Betaling vir inligting het gelei tot ‘n afname in huisbrake en gewapende rooftogte, asook die suksesvolle vervolging van misdadigers. Ons verwag selfs meer hoogtepunte in 2016.”

Lees ook: Bossie’s killer sent to jail for 30 years

Jacques se opvolger is reeds aangewys en het ook jare se ervaring in misdaadbekamping. BJC het aangedui dat hy volgende jaar aan die gemeenskap bekendgestel sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button