Hard newsNews

‘n 3310, dronk op straat en ‘n arrestasie later. Jack Parow gesels.

"Wil jy 'n Jägerbomb hê?" vra hy stout. "Is jy al ooit gearresteer?" vra ek.

MBOMBELA – Jack Parow is so gemaak en so gelaat staan. Wat by sy mond uitkom is soms eksplisiet, maar altyd eerlik.

Hy het al skade aangerig hier in Mbombela. “Laas toe ek hier was het ons die verhoog gebreek. Die partytjie het gepomp,” sê hy. Ons gesels in Emnotweni Glassbar se BBP area. Hy geniet’n Jägermeister op ys op die lang leerbank.

Die man wat só vloek dat tannies sy mond met Sunlight-seep en peper wil uitwas, glimlag soos ‘n skoolseun. “Wil jy ‘n Jägerbomb hê?” vra hy stout. “Is jy al ooit gearresteer?” vra ek kwaai. Sy gesig is skielik ernstig. “Ja, vir dronk op straat. Ek was baie dronk gewees, maar ek sou sê dat dit vanselfsprekend is, want ek is mos gearresteer vir dronk wees op straat.”

Hy vertel dat hy ‘n groot fout gemaak het deur met ‘n stink houding op sy arrestasie te reageer. Of dit weer gebeur het, weet hy nie. As dit het, was hy te dronk om dit te onthou.

Mense onthou wel Jack se eerste groot treffer “Jy dink jy’s cooler as ekke.” In dié liedjie rap hy: “Jy rol met ‘n selfoon in jou pen. Ek rol nog met ‘n 3310.” Alhoewel hy vandag ‘n Sony-slimfoon het waarop hy alles doen – van e-posse lees tot foto’s neem – mis hy die dae toe mense nog met mekaar gepráát het eerder as om na selfoonskerms te sit en staar. “In daardie opsig mis ek die ou 3310. Mense is nie meer met mekaar verbind nie. Elkeen sit net en peuter op sy slimfoon,” merk hy op.

Hy is wel verslaaf aan “Clash of Clans”, ‘n speletjie op sy slimfoon, en lag wanneer hy sê dat Nokia 3310 se gewilde snakes in daardie opsig erg te kort skiet. “En ou-skool speletjies soos skaak? Kan jy dit speel?” Hy antwoord eers heftig “nee!” en dink dan ‘n tweede keer. “Dalk as iemand my help.” Hy weet wel dat sy gunsteling-skaakstuk die ridder is.

Ons stad is nog een van Jack se gunstelinge. “Ek love ‘n stukkie Nelspruit,” sê hy. “Of dit nou vir werk is of net om hier te kom kuier. Sê net vir die mense van die lughawe dat hulle die vliegkaartjies moet goedkoper maak. Ek sal meer kom as dit nie so duur is nie.” Hy vee gemaak ernstig oor sy snor om dié stelling te beklemtoon en lag dan lekker.

Sy gesig is nie vir lank sonder ‘n glimlag nie. “Hoe maak jy ‘n straight face wanneer iemand vir jou ‘n aaklige demo-opname gee?” wonder ek.

“O nee, gelukkig luister ek die goed eers wanneer ek by die huis kom. Hulle sien dus nie my gesig nie, wat ‘n goeie ding is,” sê hy. Hy voeg by dat party van hierdie opnames darem al van hoë gehalte was. “In só ‘n geval gaan dit goed af en word die ouens wat demo-opnames ingee soms bekend,” sê hy.

Dis tyd om voor te berei vir sy vertoning by Emnotweni Arena. Jack is al baie deur kollegas geprys vir sy werksetiek en stiptelikheid en ek sou hom nie verder ophou nie. Sy vertoning was ‘n unieke, energieke ervaring wat aanhangers vir meer laat vra het.

Kyk die video-onderhoud hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button