Hard newsNews

Chris Barnard sterf

Hy is vanoggend vroeg weens vermoedelik 'n hartaanval dood

MBOMBELA – Die bekroonde skrywer, Chris Barnard, is dood.

Chris (76) is vanoggend vroeg weens vermoedelik ‘n hartaanval in Wilgers Hospitaal in Pretoria oorlede. Dit volg nadat sy regterbeen in November in dié hospitaal geamputeer is. Hy was sedertdien ontslaan, maar is weer onlangs hier opgeneem nadat hy na bewering glo probleme met sy niere ondervind het.

Lees ook: Chris Barnard se been geamputeer

Chris is op Mataffin gebore en was lank in die Laeveld woonagtig. Hy is in 2012 op sy familieplaas, Thuli naby Mbombela, deur vier mans oorval en vasgebind. Een van hulle het hom sowat twee uur lank aangehou terwyl die ander sy huis geplunder het. Plaaswerkers het sowat 12 ure later op hom afgekom en hom bevry.

Hy het hierna na ‘n kompleks in Mbombela verhuis en tot vroeër vanjaar in ‘n aftreeoord by Mataffin gebly.

Chris was met die bekende rolprentvervaardiger, Katinka Heyns getroud. Hy het ondermeer die draaiboeke vir verskeie van haar reekse en rolprente geskryf, soos Onder draai die duiwel rond, Paljas en die onlangse Die Wonderwerker wat oor Eugene Marais se lewe gehandel het.

Lees ook: Chris Barnard se Tango die gewildste by Innibos

Chris het twee keer die Hertzogprys vir Afrikaanse literatuur ontvang: in 1973 vir prosa vir sy twee romans Mahala en Duiwel-in-die-bos en in 1991 vir sy hele drama oeuvre. Talle ander literêre pryse is ook sedert 1961 aan hom toegeken. Hy is reeds verlede jaar met ‘n Fiësta-toekenning vir sy lewenslange bydrae tot drama bekroon. Hy is met ‘n staande toejuiging begroet toe die Fiësta aan hom oorhandig is. Hy was ook ‘n direksielid van die Innibos Nasionale Kunstefees.

• Chris is die derde bekende wat die afgelope week dood is. Die sanger Randall Wicomb (66) is gister dood nadat hy in 2013 met prostaatkanker gediagnoseer is. Stephan Welz, ‘n bekende kunsafslaer, is op Kersdag dood nadat ook hy onlangs met kanker gediagnoseer is.

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button