MBOMBELA – Mnr. Adriaan Jansen ontken heftig dat die vliegtuig waarmee hy en sy pa gister neergestort het by Vygeboom dam, dieselfde een is wat nét twee dae tevore by Burgerlugvaartowerheid (BLO) verkla is omdat dit na bewering gevaarlik laag oor dié dam gevlieg het.
Die registrasienommer van die wrak stem egter ooreen met dié wat by BLO aangegee is.
‘n Vliegtuig waarmee mnr. Michiel Jansen en sy seun, Adriaan oor Vygeboom dam gevlieg het, het Woensdag omstreeks 06:45 in ‘n watervoor naby die dam neergestort.
Lees ook: Aircraft crashes at Vygeboom Dam
Michiel was die vlieënier. Hy is per helikopter na Mediclinic Nelspruit geneem en Adriaan na Rob Ferreira Hospitaal op Mbombela.
Dié vliegtuig se registrasienommer is ZU-RON en duidelik op foto’s van die wrak sigbaar.
Dit is dieselfde registrasienommer van die vliegtuig wat net die vorige dag by BLO aangemeld is omdat dit gevaarlik laag oor Vygeboom dam gevlieg het.
Iemand wat ook ‘n vluglisensie het, het Dinsdag ‘n e-pos aan Burgerlugvaart gestuur waarin dié ooggetuie noem dat ‘n vliegtuig met die registrasienommer ZU-RON gevaarlik laag oor Vygeboom Dam vlieg. Dié persoon het ‘n video van dié beweerde gevaarlike vlug geneem en dit in die e-pos aangeheg.
“Good day I would like to report dangerous unnecessary low flying over Vygeboomdam. I would like to stay anonymous. Low flying on video was the first of several. Last one being even lower than the one on the video. As you will see on video, this is where watersports is enjoyed by residents. I have a video to support this. Aircraft ZU -RON,” lui die e-pos.
Die ooggetuie wil anoniem bly uit vrees vir viktimisasie. “Ek het dit (die e-pos) aan Burgerlugvaart gestuur, maar geen reaksie ontvang nie. Dit is baie jammer dat dit (die ongeluk) gebeur het. Ek het dit juis aangemeld omdat die mense (vlieëniers) moet leer en toe gebeur dit.”
Adriaan het by navraag gesê na hy “niks vir jou te sê het nie”.
“Julle het die foto’s sonder ons toestemming geskryf en ‘n klomp goed daar geskryf waarmee ek nie gelukkig is nie.”
Laevelder het hom oor die e-pos aan BLO uitgevra en hy het heftig gereageer. “As jy dit skryf (dat dit ons vliegtuig is wat by BLO verkla is), gaan jy groot moeilikheid veroorsaak. My pa is nog nie by sy volle bewussyn nie en ons sal later reageer.”
Hy het hierna gesê dat die vliegtuig waarmee hy en sy pa geval het, nié die een is wat by BLO verkla is nie. “Ons het ook die vliegtuig gesien wat gevaarlik laag gevlieg het. Hulle het dit vir ons s’n misgis. Ons vliegtuig was egter die heeltyd by die oewer en het Dinsdag vir die eerste keer opgestyg.”
Laevelder het hom wéér genader en genoem dat die registrasienommer op die wrak ooreenstem met dié op die e-pos, waarna hy verdere navrae na mnr. Kobus de Wet verwys het. Laasgenoemde het gevra om ‘n afskrif van die e-pos te sien voor hy kommentaar lewer. Hy het hierna nie weer sy foon geantwoord nie.
BLO se woordvoerder, mnr. Kabelo Ledwaba, kon nie vir kommentaar bereik word nie.
