Hard newsNewsUpdate

Rubriekskrywer lewer hartroerende huldeblyk aan Chris Barnard

Chris Barnard, die stil man wie se woorde 'n mens na die verste uithoeke binne jouself kon neem, die man wie se hart nooit die Laeveld verlaat het, maak nie saak waar hy hom bevind het nie, kom nie terug huis toe nie

MBOMBELA – Die Laeveld is leër en armer sonder Chris Barnard. Só meen Annemarie van der Walt, sélf ‘n bekende plaaslike rubriekskrywer, na die skielike afsterwe van dié bekende Afrikaanse literêre reus op 28 Desember.

Chris (76) het hier in die Laeveld grootgeword. Hy is die derde bekende wat binne enkele dae die afgelope feesseisoen dood is. Hy het daardie oggend vroeg ‘n hartaanval gehad en is in die Wilgers Hospitaal in Pretoria oorlede. Dit volg nadat sy regterbeen in November geamputeer is. Hy was sedertdien uit Wilgers ontslaan, maar is weer opgeneem nadat hy glo probleme met sy niere ondervind het.

Lees ook: Chris Barnard sterf

Chris is op Mataffin gebore. Hy is in 2012 op sy familieplaas, Thuli naby Mbombela, deur vier mans oorval en vasgebind. Een van hulle het hom sowat twee uur lank aangehou terwyl die ander sy huis geplunder het. Plaaswerkers het sowat 12 uur later op hom afgekom en hom bevry. Hy het hierna na ‘n kompleks in Mbombela verhuis en tot vroeër vanjaar in ‘n aftreeoord by Mataffin gebly.

Chris was met die bekende rolprentvervaardiger, Katinka Heyns getroud. Hy het ondermeer die draaiboeke vir verskeie van haar reekse en rolprente geskryf, soos Onder draai die duiwel rond, Paljas en die onlangse Die Wonderwerker wat oor Eugene Marais se lewe gehandel het.

“Chris Barnard, die stil man wie se woorde ‘n mens na die verste uithoeke binne jouself kon neem, die man wie se hart nooit die Laeveld verlaat het, maak nie saak waar hy hom bevind het nie, kom nie terug huis toe nie,” het Annemarie in ‘n hartroerende huldeblyk aan Chris geskryf.

“Waar sommige skrywers woorde laat tuimel soos watervalle, was Chris s’n eerder donker bergpoele van ongekende dieptes. Die leser waad daar in op eie risiko, met slegs die wete jy sal die wêreld ánders beskou met die uitklimslag.

“Chris is soveel kere bekroon vir sy woordkuns in soveel Afrikaanse genres dat dit onnodig is om dit hier te noem. Met ‘n stil trots is al dié toekennings aanvaar, maar blasé daaroor was hy nooit. Miskien is sy ietwat droë opmerking ná die onverwagse ontvangs van die Hertzogprys in 1991 vir sy drama-oevre ‘n goeie illustrasie van sy fyn ironiese selfspot: ‘Dit is soos om ‘n wedloop te wen waaraan jy nie geweet het jy neem deel nie’.”

Tango, ook uit Chris se pen, is in 2013 as die gewildste produksie by Innibos aangewys. Hy is in 2014 met ‘n Fiësta-toekenning vir sy lewenslange bydrae tot drama bekroon en met ‘n staande toejuiging begroet toe die Fiësta aan hom oorhandig is.

Lees ook: Chris Barnard se Tango die gewildste by Innibos

Annemarie was saam met drie van sy seuns, Johan, Stephan en Tian op skool in Johannesburg. Hy was stiefpa vir Katinka se seun, Reghard en saam het hulle ook later vir Simon gehad. Annemarie en Chris het egter eers kort na die verskyning van Boendoe in 1999 ‘n vriendskap gesmee. “Ek het in hom ‘n wyse pa-figuur, ‘n mentor en ‘n gesprekgenoot gevind ondanks en danksy ‘n verskil in ouderdom van amper 30 jaar.”

Annemarie bly in Kaapsehoop en onthou Chris as iemand wat liéf was vir die Laeveld in al sy gedaantes. “Vir plekname en blou rante, vir biltong en carpaccio, vir die lewe. ‘Die alternatief van lewe is doodgewoon sielig’ en dan lag hy so binnetoe met sy oë blou op die verste horisonne.”

Sy beskryf Chris as ‘n naamgewer van formaat en verklap dat Stoep, die gewilde kuierplek in Sonpark, juis sy naam aan hóm te danke het. “Toe ek en twee vennote sowat vyf jaar gelede besluit om ‘n koffiewinkel oop te maak en kopkrap oor ‘n naam, het hy só geluister: ‘Is dit die plek met die stoep by Sonpark?’ Ja, beduie ek oor die soveelste bottel wit wyn deur die jare. ‘Noem dit tog dan Stoep.” En so, heel eenvoudig, is dit steeds,” onthou Annemarie.

Chris laat ook ‘n broer, Sam, agter. Hy bly in Mbombela. Ook hy het hulde aan Chris gebring wat in sy begrafnisbrief vervat is.

“Op Boschrand, saam met pa en ma in die huis, knus met koolstoof en ma se bruinbrood in die oond. Of papaanbrandsel met melk en suiker. By ouma se bakoond op die werf waar Chris en ek tamaties uit die tuin op ‘n klip neffens die oond sit en eet. Veilig, sorgeloos.

“Saans in die bad het ons grasstoppels uit seer knieë getrek en “Deur die lange somersnagte” gesing. Daarna het dit al hoe meer gebeur dat hy met sy kop wat kantel, op sy gunsteling klip gaan sit – en net staar.

“Vandaar is hy gewoonlik rondawel toe waar hy gaan sit het en skryf – en skryf. Vir my was my broer se optrede ‘vreemd’ en het ek hom menigmaal met die kettie deur die venster met ‘n lemoenskil agter die kop geskiet.

“Dit het gewoonlik vir my die gewensde uitwerking gehad. Min het ek geweet dat daar toe reeds woorde in sy kop was waaraan hy vleuels wou gee.

“Saans, net voor sononder, het ons op die klipplaat gaan sit en kyk hoe die son agter Mataffinskop gaan hurk. Nou het die son vir hom die laaste maal agter Matffinskop gaan hurk. Ek gaan jou mis, Chris, my liewe broer.”

‘n Gedenkdiens is op 31 Desember in Johannesburg gehou en daar sal ook later een in Mbombela gehou word. Sy as gaan hier gestrooi word.

• Die sanger Randall Wicomb (66) is op 27 Desember dood nadat hy in 2013 met prostaatkanker gediagnoseer is.
Stephan Welz, ‘n bekende kunsafslaer, is op Kersdag dood, ook weens kanker.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button