Hard newsNews

Steiltes inwoners keelvol vir kragonderbrekings

Die elektrisiteit was Vrydag vir bykans 16 ure onderbreek na 'n storm.

MBOMBELA – Steiltes se soms langdurige kragonderbrekings begin al hoe meer inwoners die harnas injaag.

Die buurt en omliggende gebied se elektrisiteit was die hele Vrydag weer af. Weerlig het na vermoede ongeveer 02:24 die oorhoofse voerkabel na Steiltes by Matumi tydens ‘n storm beskadig.

Die herstelwerk sou klaarblyklik teen 13:00 voltooi wees, maar dit was meer omvattend as wat verwag is en die toevoer is eers weer om nagenoeg 16:20 aangesluit.

Mnr. Ben Schultz, ‘n inwoner van Steiltes, vertel hy het omstreeks 02:20 wakker geword van die twee weerligstrale en donderslae wat na vermoede die skade aangerig het.

“Niemand by die munisipaliteit neem ooit na ure oproepe om iets te bevestig of te ontken nie. Pleks daarvan kry jy irrelevante inligting soos verwagte heraansluitingstye.

“Hulle oordryf die beplande heraansluitingstye met ure sodat jy hulle uitlos, en dan is jy veronderstel om bly te wees as die krag weer aangesluit word. Ons voel ons is geregtig op ordentlike kommunikasie aangesien salarisse by die munisipaliteit deur ons betaal word.”

Die woordvoerder vir Mbombela-munisipaliteit, mnr. Joseph Ngala het Vrydag by navraag gesê hulle is daarvan bewus dat daar telkens probleme in die Steiltes-omgewing opduik. “Die area is baie vatbaar vir weerlig. Dit kan dus nie aan verouderde infrastruktuur toegeskryf word nie.”

Hy het ook gemeld dat Mbombela saam met Eskom moet werk aangesien die meeste van die oorhoofse kabels aan hulle behoort.

“Ons moet begin wegdoen met oorhoofse lyne, maar ondergrondse kabels is ‘n maklike teiken vir kabeldiewe. Ons gaan op ‘n stadium ‘n blywende oplossing moet vind.”

Ngala kon nie sê of iets soos weerligafleiers sou help nie, en het aangedui dat hy Maandag beplande oplossings met die ingenieurs sou bespreek. Hy kon nie verder vir kommentaar bereik word nie.

Tog het van die tegnici wat Vrydag gewerk het om die skade te herstel, gemeld dat hulle gesukkel het om by een van die beskadigde pale uit te kom, omdat toegang deur digte bosse bemoeilik is.

Dit het vrae laat ontstaan oor of Mbombela opknappingswerk aan die infrastruktuur doen.

Raadslid mnr. Jo Koster sê dit is die verantwoordelikheid van Mbombela se parkedepartement om gebiede te ontbos sodat werkers te eniger tyd toegang tot infrastruktuur kan bekom.

Lees meer: Steiltes’ electricity problems soon to be a things of the past

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button