Hard newsNewsUpdate

Christi Opperman-saga: Koerant moet vrou te hulp snel

"My landlord hou my in arres. Ek wil hê die polisie moet my eerder arresteer," het sy gepleit.

MBOMBELA – ‘n Vrou se beweerde skelmstreke het haar verlede week ingehaal en sy is deur ‘n woedende gastehuiseienaar in Masoyi aangehou omdat sy nie haar rekening wou betaal nie. Sy is bevry danksy Laevelder en die polisie se ingryping.

Die koerant het verlede jaar berig oor me. Christie Opperman wat haarself as ondermeer prokureur, ‘n amptenaar van binnelandse sake en ‘n kenner van antiekware voorgedoen en inwoners na bewering uit hul geld bedrieg het.

Opperman het in 2007 as prokureursklerk in Louis Trichardt gewerk. Toe haar klerkskapkontrak in 2010 verval het, het sy aanhou werk en glo voorgegee dat sy as regskenner hierdie diens kon lewer. Sy is uitgevang en het die dorp verlaat.

In 2011 is berig dat Opperman ‘n eiendomstransaksie opgestel het waarvoor sy betaling ontvang het.  Provinsiale polisiewoordvoerder brig. Selvy Mohlala het bevestig dat sy in Oktober daardie jaar gearresteer is en dat daar ‘n klag van bedrog teen haar aanhangig gemaak is. Sedertdien het sy deposito’ s van kliënte ingevorder vir verskeie dienste wat sy kwansuis sou lewer. Me. Chantel Hayes van Witrivier het ‘n opspoorder nodig gehad en mnr. Allenroos Roos van Rustenburg wou by haar antiekware koop. Beide het geld verloor.
Hays het Laevelder weer hierdie week gekontak en navraag gedoen oor Opperman. Laasgenoemde het die koerant Woensdagaand uit die bloute gekontak en van haar penarie ingelig. “Ek het dringend hulp nodig,” het sy geskryf.

“Ek is tans in ‘n rolstoel – het hier in Masoyi in die trust beland weens finansiële redes. My landlord hou my in arres. Ek wil hê die polisie moet my eerder arresteer,” het sy gepleit.
Opperman het boonop ‘n selfie van haar in ‘n rolstoel gestuur.
12516531_10153256400917036_393623266_n

 

12476053_10153256400977036_1557192122_n

 

 

 

 

 

 

 

‘n Oproep Donderdagoggend aan Witrivier se polisiestasie het bevestig dat daar geen teken van die lasbrief op die polisie se stelsel meer was nie.

Opperman het die koerant van haar GPS-ligging voorsien. Wat die naam van haar huurwoning was, het sy nie geweet nie. Die verhuurder, glo ‘n sangoma wat ‘n ongekende vrees by haar ingeboesem het, was slegs as Jonas bekend. Laevelder het die GPS-ligging aan die polisie gegee en vier beamptes is Donderdagaand na die huurkamers om Opperman te gaan red.

“Ons het haar in haar rolstoel gekry. Die verhuurder het haar in ‘n kamer toegesluit en alleen op die perseel gelos,” het Mohlala bevestig. Opperman is na Masoyi se polisiestasie vergesel waar daar wéér na ‘n lasbrief vir haar arres gesoek is. Volgens Opperman kon die polisie nie een kry nie en is sy toegelaat om die pad te vat.

Sy het gister laat weet dat sy by ‘n vriendin in Witrivier kuier terwyl ‘n maatskaplike werker haar help soek na blyplek. Sy sê dat sy haar skelmstreke berou. “Ek sal die gevolge daarvan face. As die lasbrief vir my arres weer opduik, sal ek daarmee deal.

“As dit nie gebeur nie, sal ek nog steeds ‘n plan maak om reg te maak waar ek verkeerd gedoen het. Ek ontken nie dat ek dinge verkeerd gedoen het nie. Ek neem verantwoordelikheid daarvoor en is jammer. Ek hardloop nie weg nie.”

Lees ook: Polisie wou “prokureur” arresteer

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button