MBOMBELA – Hy was so bang vir sy dag in die hof, dat mnr. Jan Venter besluit het om meineed te pleeg. Dr. Mathews Phosa se voormalige huisbestuurder sê egter nou hy is nie meer bang nie en wat hom toekom, moet kom.
Dié twee het glo ‘n reëling gehad maar nie daarby gehou nie en nou is hulle weer haaks, in die openbaar en in die hof.
Phosa het die sake van bedrog, diefstal en laster, wat hy teen Venter teruggetrek het, wéér aanhangig gemaak.
- Lees meer: Former Phosa employee lashes out
https://www.citizen.co.za/lowvelder/258241/phosa-takes-legal-action-again-against-former-employee/
Venter wou nie erken of ontken dat hy telkemale sy storie verander juis om as ‘n onbetroubare getuie beskou te word nie.
“Dit kan ek nie antwoord nie, maar dit sal wonderlik wees as hulle my nie roep nie, halleluja.”
Venter sê die saga het sy lewe verwoes. Hy het in 2014 by die Phosas bedank, waarna Phosa hom by die polisie verkla het oor R53 000 wat hy glo sou gesteel het.
Op sy beurt het Venter ‘n beëdigde verklaring by die polisie afgelê waarin hy aangevoer het dat Phosa en mnr. Nick Elliot die outeurs was van die aantygings teen Mabuza waarvolgens hy glo ‘n spioen vir die apartheidsregering was.
In Oktober 2015 sou Venter dié aantygings terugtrek en aanvoer hy is deur Mabuza se prokureur betaal om dit te sê. Phosa en Venter is herenig en eersgenoemde het die klagtes teen Venter laat vaar.
“Ek was moeg, ek wou net hê dit moes verby wees.”
Maar verlede week het Phosa hulle weer aanhangig gemaak nadat Venter se ma aan Sondagkoerante vertel het hoe Phosa nie sy ooreenkoms met haar seun eerbiedig het nie.
Volgens Venter het Phosa hom in ‘n woonplek in Gauteng laat intrek “vir my veiligheid” en ‘n werk belowe teen Januarie op voorwaarde dat hy vir Phosa sal getuig. Toe Phosa sy belofte verbreek, het Venter se ma haar tot die media gewend.
Sy sê sy het dit gedoen om die waarheid te vertel en het verder geweier om kommentaar te lewer. Venter sê egter sy ma het dit sonder sy medewete of goedkeuring gedoen.
“Ek kan haar nie blameer nie, as mense weet waardeur ons is.
“Ek moes hom letterlike smeek vir kos elke week. Ek het elke besitting wat ek gehad het verkoop om te oorleef.”
Venter sê hy hoop hy word nie as ‘n getuie geroep in die lastersaak wat Mabuza teen Phosa aanhanging gemaak het nie. Dit behoort op 9 Mei voor te kom.
Hy erken hy is ‘n onbetroubare getuie en dat hy gelieg het, maar wil en sál nou die waarheid vertel as hy ooit in die hof moet getuig.
Hy verduidelik dat hy meineed gepleeg het omdat hy vreesbevange was vir die hofsaak oor die geld.
“En ek het ‘n reg gehad om bang te wees. Hoeveel keer as iemand aangekla word (op so ‘n klein bedrag), word ‘n senior advokaat van Pretoria ingebring om die saak te doen?
“Natuurlik dink jy jy is in die moeilikheid. Daar is onskuldige mense wat in die tronk sit.”
Venter sê verder hy het Mabuza se kantoor maande voor die bekendmaking oor die aantygings gewaarsku,
omdat hy ‘n groot aanhanger van die ANC is en nie kon toekyk hoe iemand in die party leed aangedoen word nie.
Later het Mabuza hom finansieel gehelp, want hy kon nie werk nie, omdat kliënte hom telkemale erken het as “dié Jan Venter”.
Hy ontken nou ook dat die betaling wat hy van sy prokureur ontvang het, omkoopgeld was om te lieg, soos hy vroeër aangevoer het.
Dit is vir hom onmoontlik om aan te gaan met sy lewe, daarom is Venter nie meer bang vir sy dag in die hof nie. “Ek het meineed gepleeg, ek sal vat wat na my toe kom.”
Phosa sê hy het destyds Venter se verskoning aanvaar, en nie verder met hom kontak gehad nie, behalwe deur hul regsverteenwoordigers.
https://www.citizen.co.za/lowvelder/297558/mlanga-the-place-of-plots-and-dirty-politics/
Hulle het wel ‘n ooreenkoms waarvolgens Venter R10 000 aan Phosa moet terugbetaal. As Venter dit nie teen die einde van die maand doen nie, beplan Phosa om hom te laat sekwestreer.
“Hy moet ophou om hom skuldig te maak aan meineed en eerder ‘n werk soek.”
