MBOMBELA – Me. Elize de Jager, die voormalige Laevelder wat in 2014 in Kenia vir die besit van en handel in kokaïene gearresteer is, is steeds in Nairobi in aanhouding. Haar verhoor in die Milimani Geregshof het na meer as ‘n jaar nog nie begin nie en sy is etlike borgaansoeke geweier.
De Jager, ‘n kankerlyer, sou verlede Donderdag weer vir borg aansoek doen op grond daarvan dat sy nie behoorlike toegang tot haar medikasie in die gevangenis het nie.
Laevelder het vantevore berig dat De Jager Suid-Afrika op 4 Oktober 2014 verlaat het. Sy het via Brasilië met ‘n Keniaanse vlug na Benin toe gereis en is in Nairobi gearresteer toe sy van die een vlug na die ander oorgeklim het. Daar was glo 4,5 kilogram se kokaïene in haar besit. Die waarde daarvan was ongeveer R1,7 miljoen.
“Dit was in ‘n kleretas verpak,” het ‘n ingeligte bron aan Laevelder bevestig. Sy is van ‘n aanhoudingsel af na die Nairobi-gevangenis toe geneem en is op 1 Desember aangekla. De Jager het onskuldig gepleit.
Lees ook: What came to light in 2015 in the Elize de Jager drug muling case
‘n Belgiese vrou, Laurence Piérard, wat in Nairobi werksaam was, het haar oor De Jager ontferm deur haar hofverskynings by te woon en gereeld vir haar medikasie te neem. Piérard het egter intussen verhuis. Sy het aan Laevelder gesê dat De Jager in haglike omstandighede aangehou word. “Buitelanders word baie sleg behandel in daardie tronk.
“Hulle word byvoorbeeld nie van seep, tandepasta of toiletpapier voorsien nie, terwyl plaaslike gevangenis wel hierdie items kry,” het sy gesê.
Dit was ook vir haar moeilik om Elize se medikasie te bekom en via die tronk se personeel aan haar te besorg. “Die tronk voorsien haar nie van die mediese sorg wat sy nodig het nie. Die plek is erg oorbevolk en wanneer konflik uitbreek, word buitelanders geteiken.”
Suid-Afrika en Kenia het geen ooreenkoms in terme waarvan De Jager na ‘n Suid-Afrikaanse gevangenis toe oorgeplaas kan word sodat haar saak hier verhoor kan word nie. Me. Patricia Gerber is die direkteur van Locked Up, ‘n organisasie wat Suid-Afrikaanse gevangenis in buitelandse tronke ondersteun.
Gerber beskou Suid-Afrika se versuim om so ‘n ooreenkoms te sluit as moreel onregverdig. Sy het haar in 2010 tot die Noord Gauteng Hoë Hof gewend waar sy ‘n bevel probeer kry het om die regering te dwing om ‘n uitleweringsooreenkoms met Mauritius te sluit, waar haar seun van ‘n soortgelyke misdryf aangekla en aangehou is.
Die hof het nie in haar guns beslis nie en verlof om dié beslissing te appeleer, is nie toegestaan nie.
Gerber het ook teenoor Laevelder beklemtoon dat alle reisigers op lughawens hul bagasie met valkoë moet dophou. “Hulle kan so maklik en vinnig dwelms in jou reistas plant.” Sy het gesê dat die owerhede ‘n onderskeid behoort te tref tussen ‘n dwelmmuil en ‘n sogenaamde dwelmlokvink.
“Dwelmlokvinke dra kleiner hoeveelhede dwelms met hulle saam as dwelmmuile. Die doel van ‘n lokvink is onder andere om die aandag van dwelmmuil af te trek. Owerhede moet eerder fokus op die arrestasie van dwelmmuile as dié van lokvinke,” het sy gesê.
Ons land se wetgewing bepaal egter uitdruklik dat die besit van ‘n verbode middel, ongeag die hoeveelheid ter sprake, vervolging regverdig.
Gerber meen ook dat die lughawepolisie fouteer wanneer hulle besluit om vermeende dwelmsmokkelaars hier te identifiseer en internasionaal te vervolg, eerder as om hulle daar en dan vas te trek.
‘n Ingeligte bron het in reaksie hierop aan Laevelder verduidelik dat dit soms nodig is om verdagtes op hul “smokkelspoor” te volg, omdat dwelmsmokkelary ‘n internasionale bedryf is en die ondersoek daarvan nie tot ons landsgrense beperk kan word nie.
Die uitslag van De Jager se borgaansoek was teen druktyd nog nie bekend nie.
Gerber het gesê dat sy nie sal ophou om haar te beywer vir die lot van De Jager en ander in haar posisie nie.
