MBOMBELA – ‘n Afgetrede polisieman van die provinsie wat talle geharde misdadigers vir lank tronk toe gestuur het danksy forensiese bewyse wat hy op misdaadtonele ingesamel het, lewer nou ‘n bydrae op ‘n ander wyse – hy stap bykans 1 000 kilometer vir bewusmaking van kanker.
Oud-lt.kol. Anton Crafford was aan die stuur van die forensiese taakspan in Middelburg vir baie jare. Hy het ook verskeie misdaadtonele hier in die Laeveld gefynkam vir leidrade. Van hulle sluit in die Van Deventer-familiemoorde in Plaston in 2008; die Hendriksdal-plaasmoorde in 2009; Bossie Bezuidenhout se moord in 2010 en ook ‘n verkragting in die Barberton-omgewing in dieselfde jaar.
Lees ook: Verkragtingslagoffer wen eerste rondte teen Korrektiewe Dienste
Die hele Suid-Afrika het egter in 2012 kennis geneem van Anton met die dood van die vyfmaande oue Wiehan Botes. Hy en die dagmoeder by wie hy bedags versorg is, me. Magrietha de Goede (66), is wreed in de Goede se huis in Delmas vermoor. Wiehan is verwurg en sy lykie sommer onder ‘n bed ingegooi.
Hierdie sou die keerpunt wees vir Crafford wat al die ondenkbare in sy loopbaan moes aanskou. Hy het Wiehan se lykie in ‘n blou kombersie toegedraai en buite na die lykswa gedra – ‘n toneel wat deur nuusfotograwe afgeneem is en wat mense nog vir baie jare sal onthou.
Lees ook: Bossie’s killer sent to jail for 30 years
“Ek het self kleinkinders. Ek wou ‘n laaste eerbetoon aan hom (Wiehan) bewys,” het Anton nog kort na die voorval aan Laevelder vertel. “Ek het hom in die kombersie toegedraai en na buite gedra. Toe ek hom agter (in die voertuig) insit, het ek nog gesê: ‘Oupa sal sorg dat jy nie koudkry nie’.”
Anton het kort hierna sy aftrede aangekondig en sowat ‘n jaar later die tuig neergelê. Sy bydrae tot misdaadbestryding in die provinsie is van onskatbare waarde.
Sy deernis hou egter nie hier op nie. Hy is tans besig met ‘n 1 000 kilometer staptog na die Kaap. Die redes hiervoor is meervoudig – vir kankerbewusmaking, om sy eie pa te eer wat in 2010 aan kanker dood is en ook ter nagedagtenis van Wiehan.
Anton en sy vrou woon deesdae in Bethulie in die Vrystaat. Lt.kol. Deon van der Merwe se vrou, Johlene, is verlede jaar na ‘n jarelange stryd teen kanker oorlede en hy wou graag ‘n staptog ter nagedagtenis vir haar, aanpak. Hy en Anton was bykans 40 jaar gelede saam in die polisiekollege in Pretoria. Hy het Anton, afgetrede kol. Hannes Wentzel en a.o. Swannie Swanepoel, genader om saam te stap.
Anton het nie gehuiwer nie en dadelik ingestem. “En tussen Beaufort Wes en Laingsburg, stap ek uitsluitlik vir klein Wiehan. Daai klein mannetjie sal vir die res van my lewe deel wees van my traumatiese ervarings wat uitstaan. Ek mis daai klein babatjie so opreg, want hy was so ‘n mooi kind. Wat ‘n ‘voorreg’ was dit om sy liggaampie na die lykswa te dra, niemand anders mag of sal aan hom gevat het nie! Daai trauma sal ek nooit verwerk nie – dit vorm deel van my lewensreis,” het Anton hierdie week iewers tussen Colesberg en Hanover per e-pos aan Laevelder vertel.
Hulle het op 29 Maart vanuit Bloemfontein vertrek en reeds 340 kilometer voltooi. Hulle moet nog 670 kilometer stap. Hulle los mekaar af en dié wat nie stap nie, bestuur die ondersteuningsvoertuig met al hulle bagasie.
Dit gaan deesdae okay met hom, vertel Anton, wat in 2014 by ‘n joernalistieke konferensie droogweg opgemerk het dat hy maar moet staatmaak op “sonskynpilletjies” om hom deur die dae te kry. Hy het sonder skroom vertel dat hy ook destyds in Denmar opgeneem is vir erge depressie.
“Ek het redelik rustigheid in my lewe en ek geniet Bethulie se rustigheid. Ek is op sterk medikasie en ek glo alles is onder beheer.” Tog word hy deur erge nagmerrries geteister en slaap baie sleg. Hy maak gereeld van slaappille gebruik. “My vrou maak my gereeld wakker in die nag omdat ek so skop en skree.”
Hoewel Anton sukkel met blase en erge styfheid na elke dag se baie kilometers, is hy superfiks en goed voorberei. Die fisiese uitputting is nie die grootste uitdaging nie, maar wel om vir Deon vertroosting en rustigheid te bied. “Ek bring kwaliteit-tyd met my Skepper deur. Wanneer ons aflos stap, gesels en bid ek kliphard!”
Hulle kry ongelooflike ondersteuning van mense oraloor. “By al die gastehuise, motoriste en lorriedrywers. Dis baie bemoedigend. Baie mense stop ook langs die pad en gesels met ons.”
Na die staptog sal alles weer na “normaal” terugkeer. “Terug in Bethulie, dag vir dag, maar ek vertrou dat die stap vir my meer vrede sal gee. Ek is maar skrikkerig tussen mense en verkies om ‘n alleenloper te wees.”
