MBOMBELA – Mnr. Jannie van der Berg, voormalige sport-omroeper by Radio Laeveld, is Vrydagoggend in die Nelspruit Landdroshof aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hy glo Woensdagoggend gedreig het om sy vervreemde vrou dood te maak.
Dit is nie die eerste keer dat Van der Berg in die hof verskyn vir beweerde onregmatige gedrag teenoor dieselfde slagoffer nie. Die hof se rekords toon dat hy vroeër vanjaar gearresteer is nadat ‘n beskermingsbevel wat haar teen hom beskerm, glo verontagsaam is.
‘n Ingeligte bron het Laevelder vertel dat van der Berg sy vervreemde vrou Woensdagoggend na bewering geintimideer het toe sy in haar motor wou klim. Hy was glo met ‘n mes gewapen. “Hy het die mes voor haar rondgeswaai en gesê dat hy haar sou doodmaak,” het die bron gesê.
Bossies Community Justice se operasionele beampte, mnr. Albert Greyvenstein, het gesê dat hulle op grond van dieselfde weergawe van die oggend se gebeure versoek is om op die uitkyk te wees vir Van der Berg.
“Daar is ‘n lasbrief vir sy arrestasie uitgereik aangesien ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen hom aanhangig gemaak is,” het die stad se polisiewoordvoerder, Kapt. Dawie Pretorius, Donderdagmiddag aan Laevelder bevestig.
“Van der Berg is in Pretoria en sal môre by die polisie aanmeld,” het hy gesê. Die verdagte is egter kort daarna by die Sonpark-sentrum gesien. Greyvenstein, mnr. Hennie Visser en Konst. Hannes Blom van die polisie het hul na die sentrum gehaas waar Van der Berg gearresteer is.
Mnr. Robin Jansma, bestuurder van Radio Laeveld, het by navrae gesê dat Van der Berg “al vir ‘n geruime tyd nie meer by die stasie werk nie.”
Van der Berg is steeds in aanhouding.
Laevelder is deur polisiewoordvoerder Kapt Dawie Pretorius ingelig dat borg aan van der Berg toegestaan is en het in vandag se gedrukte uitgawe dienooreenkomstig berig. Pretorius het egter vandag bevestig dat dit nie die geval is nie en dat hy steeds in aanhouding is.
