
NGODWANA – ‘n Grootskaalse soektog is onderweg na ‘n 90-jarige sangoma wat na die sogenaamde Krugermiljoene gesoek het.
Dit is glo nie die eerste keer wat mnr. Christofa Khundu hier ‘n skattejag na die miljoene onderneem het nie. Volgens ingeligte bronne, is Khundu van Rustenburg afkomstig. Sy kinders bly onderskeidelik in Bloemfontein en Johannesburg en het reeds Woensdag in Ngodwana aangekom om na hom te help soek.
“Hulle was sowat 11 mense wat gesoek het. Khundu het hulle gevra om hom R2 500 te betaal, waarna hy hulle sou wys waar die geld versteek lê,” het een gesê.
“Toe hulle sien dat Khundu se soektog niks oplewer nie, het hulle kwaad geraak en die area verlaat. Een lid van die soekgeselskap het egter saam met hom agtergebly. Hulle het geen kos of water by hulle gehad nie. Die jonger man het toe geloop om water te gaan soek, maar self verdwaal,” het die bron verder vertel.
Khundu is Sondag laas gesien en is amptelik as vermis aangegee. Lede van die polisie se onderskeie eenhede, waaronder die duik- en honde-eenheid in Witrivier, asook die berede-eenheid op Middelburg, fynkam tans die gebied. “Dit is hier in die Goedehoop-area, sowat 10 kilometer vanaf die dam hier by Ngodwana,” het die bron vertel. “Ons is meegedeel dat Khundu al vantevore hier na die miljoene kom soek het,” het ‘n ander bron gesê.
Laevelder het dan ook in 2011 berig oor grafte uit die Boereoorlog wat in Airlie opgegrawe is deur fortuinsoekers wat geglo het die Krugermiljoene lê dáár begrawe.
