Hard newsNews

Vermiste fortuinsoeker gevind

Hy was swak, maar het darem vriendelik gewaai om die soekgeselskap te bedank

NGODWANA – ‘n Man wat Sondag vermis geraak het terwyl hy glo ‘n groep mense gehelp het om te soek na die sogenaamde Krugermiljoene, is gistermiddag lewendig gevind.

Mnr. Christofa Khunu (90) is gistermiddag per helikopter na Rob Ferreira Hospitaal gebring nadat hy vier nagte in die bosse in die Goedehoop-area deurgebring het.

Lees ook: Lykskouing op Angela Michaels na verwagting more gedoen

Daar word wyd bespiegel oor hoé Khunu hom presies hier bevind het. Volgens ingeligte bronne het Khunu, wat van Rustenburg afkomstig is, vir die groep mense gesê om hom R2 500 te betaal waarna hy hulle sou wees waar die Krugermiljoene hier begrawe is.

“Hulle het later gesien dat Khunu nié weet waar die sogenaamde miljoene is nie, kwaad geraak en hom gelos. ‘n Jonger man het by hom agtergebly en later gegaan om water te gaan soek, maar ook verdwaal,” het ‘n bron gesê.

“Later het ons gehoor hy het bloot saamgekom omdat hy, as toegewyde lidmaat van die ZCC-kerk, gevra is om vir die soekgeselskap te bid,” het ‘n ander bron gesê.

Lede van die polisie se duik- en honde-eenheid op Witrivier, die honde-eenheid op Standerton, berede-eenheid op Middelburg en Off-Road Rescue Unit, het Donderdag hulle soektog na hom voortgesit.

Lees ook: Man rescued after rolling down God’s Window

“Ons het Woensdag na hom geroep, maar geen reaksie gekry nie. Donderdag het ons weer in die omgewing gestap, sowat ses kilometer van waar hy vermis geraak het. Ons het almal tjoepstil gebly, weer na hom geroep en dié keer reaksie gekry,” het kapt. Pottie Potgieter, bevelvoerder van die eenheid op Witrivier, gesê.

Hulle moes nog sowat ‘n uur deur die erg beboste en klipperige gebied spook om by Khunu uit te kom.

Hy was swak, maar het darem vriendelik gewaai om die soekgeselskap te bedank. “Hy het gesê dat hy ons Woensdag óók hoor roep het, maar toe te swak was om te antwoord,” het Potgieter bygevoeg.

‘n Private helikoptervlieënier van die Lydenburg-omgewing het Khunu en ao. André de Lange hier opgepik.

Hy is later met Mpumalanga Emergency Medical Services se helikopter na Rob Ferreira Hospitaal gebring.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button