Hard newsNews

Borg van R 1 000 vir media man

Prokureur mnr. Riaan Bell het gesê dat sy kliënt onskuldig is.

MBOMBELA – Mnr. Jannie van der Berg, voormalige Radio Laeveld-omroeper en bekende in die stad se rugbykringe, is Maandag op borg vrygelaat nadat hy vir 10 dae in aanhouding was. Hy word daarvan aangekla dat hy sy vervreemde vrou aangerand het.

Van der Berg is op 8 April by die Sonpark-sentrum in hegtenis geneem. Laevelder het vroeër berig oor die klagtes teen hom. Hy het sy vervreemde vrou na bewering geïntimideer, ‘n mes voor haar rondgeswaai en haar met die dood gedreig toe sy op Woensdag 6 April in haar motor wou klim.

Sy regsverteenwoordiger, mnr. Riaan Bell, het egter Maandag op rekord geplaas dat sy kliënt onskuldig is.

“Die klagtes teen my kliënt is fiktief, maar hierdie kwessie sal nie op hierdie stadium verder aangespreek word nie,” het hy gesê.

Van der Berg en sy vrou is tans in ‘n egskeidingstryd gewikkel. Bell het namens sy kliënt aangevoer dat die strafsake teen hom ‘n poging van die teenkant was ‘om veld te probeer wen in die egskeidingstryd’. “Egskeidings hoort in die egskeidingshof, nie hier in die strafhof nie,” het hy gesê. Hy het ook gesê dat hy die tussentydse beskermingsbevel wat die hof vroeër vanjaar teen Van der Berg toegestaan het, namens sy kliënt sou teenstaan.

Alhoewel Van der Berg se borgverhoor Maandag moes voortgaan, was die ondersoekbeampte wat teen borg sou getuig, nie by die hof nie. Bell het gesê dat dit ongrondwetlik sou wees om sy kliënt agter tralies te hou tot en met sy volgende hofverskyning.

“Die polisie se versuim om by die hof op te daag, behoort nie tot my kliënt se nadeel te lei nie,” het hy gesê. Borg van R1 000 is aan Van der Berg toegestaan en die saak is tot 26 Mei uitgestel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button