MBOMBELA – Die geskil oor die oordrag van die skougronde sal op 23 Mei in die Gauteng Hoë Hof draai.
Dit is Dinsdagoggend deur prokureur mnr. Johann du Preez aan Laevelder bevestig. Du Preez verteenwoordig die Laeveldse Skouvereniging, wat die skougronde in Februarie 2015 aan me. Susan Fikile Mkanzi verkoop het. Die eiendom is nog nie oorgedra nie, omdat die munisipaliteit weier om dokumente wat nodig is vir die oordrag, uit te reik. Die hofverrigtinge sal om hierdie weiering draai.
Laevelder het verlede jaar berig dat talle van die stad se topsakelui op 26 Februarie by die veiling van die skougronde was. Dit is deur groot drama voorafgegaan – die munisipaliteit het twee dae voor die tyd probeer om die gronde te onteien. Die kennisgewing in terme waarvan hulle dit wou doen, was egter foutief.
Dinge het soos beplan voortgegaan en mnr. Saleh Mohamed van Metro Cash & Carry se hoogste bod van R28 miljoen is aanvaar. Mkanzi, wat Nghwazitt Investment (Edms) Bpk verteenwoordig, het egter met ‘n meer gunstige bod vorendag gekom en ‘n koopkontrak is tussen haar en die skouvereniging gesluit. “Sy het ook R28 miljoen betaal, maar het aangebied om verantwoordelikheid vir die hersonering van die eiendom wat nog gedoen moet word, te aanvaar,” het skoudirekteur mnr. Louis Kotzé destyds aan Laevelder verduidelik.
Die eiendom bestaan uit twee gedeeltes. Gedeelte 39 is in die vyftigerjare deur die munisipaliteit aan die skouvereniging geskenk. Hierdie gedeelte se titelakte het voorheen die verkoop van die eiendom verbied, maar in 1983 is hierdie verbod opgehef. ‘n Endossement op die titelakte bevestig die goedkeuring van hierdie opheffing deur die Registrateur van Aktes. Die skouvereniging het gedeelte 85 later aangeskaf.
Lees ook: Foto’s van die Skougronde se toeka tot nou
Lees ook: Die Skougronde se veiling – ‘n geskiedkundige gebeurtenis
Die munisipaliteit laat die eiensomsoordrag nou al vir langer as ‘n jaar sloer deur te weier om uitklaringsyfers vir gedeelte 39 uit te reik. Hierdie syfers is ‘n voorvereiste vir die oordrag. Die munisipaliteit baseer hul versuim op die bewering dat die terugtrekking van die verbod op die eiendom se vervreemding ongeldig was.
Die skouvereniging het hulle na die Hoë Hof gewend, waar hulle hoop dat ‘n bevel op 23 Mei in hulle guns uitgereik sal word. Dit sal Mkanzi in staat stel om die eiendom waarvoor sy meer as ‘n jaar gelede betaal het, te ontvang.
Laevelder het Woensdag verneem dat die gewag Mkanzi nie juis ontstel nie. “Ek weet nog nie wat ek met die eiendom wil doen nie,” het sy doodluiters gesê. Die feit dat die skougronde deur vandaliste gestroop word, pla haar ook nie. “Dis nog nie my eiendom nie, so dis nie my verantwoordelikheid nie,” het sy geredeneer.
Twee wagte is intussen aangestel om die eiendom te bewaak. GNT Sekuriteit se mnr. Veli Mlombo het bevestig dat die wagte op instruksie van die munisipaliteit daar ontplooi is om toe te sien dat koperdiewe, wat vir die afgelope jaar gereeld daar skade aanrig, van die perseel wegbly.
Die munisipaliteit het ook sekuriteitswagte van Mafoko Sekuriteit ontplooi om ‘n ogie oor die substasie naby die Oewersig-saal te hou.
