MBOMBELA – Lede van die burgerregtelike organisasie AfriForum het verlede week klagtes by die polisie ingedien teen die voormalige hoof van die gesondheidsdepartment.
Me. Monique Taute, die organisasie se nasionale veldtogkoördineerder, het verduidelik dat hulle die klagtes aanhangig gemaak het teen mnr. Richard Mnisi, wat in 2012/13 departementshoof was, omdat dié jaar die mees onlangse is waartoe hulle die jaarverslae kon bekom.
Die aksie vorm deel van AfriForum se Genoeg-is-Genoeg-veldtog, waartydens hulle oor twee weke in agt provinsies strafregtelike klagtes teen 13 departemente se hoofde sal indien.
Dit het Maandag in Gauteng afgeskop, waar hulle klagtes gelê het teen vier provinsiale departemente. Die volgende dag was dit die Mpumalanga-gesondheidsdepartement se beurt.
Taute sê hulle moes die klagtes formuleer op die mees onlangse jaarverslae. Dit kon daarop neer dat Mnisi, wat geruime tyd al weg is by die departement, moontlik sy plig as departementshoof en rekenpligtige beampte verontagsaam het deur nie stappe te doen om onreëlmatige besteding te halt nie, of om op te tree teen diegene wat dit gepleeg het nie.
In terme van Artikel 86(i) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur sou die rekenpligtige beampte aan artikels 38 en 40 moes voldoen. Dit bepaal dat hy aan ‘n misdryf skuldig kan wees as hy opsetlik of grof nalatig versuim om doeltreffende en toepaslike stappe doen om ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes weens kriminele optrede te voorkom, of versuim om bedryfskapitaal doetreffend en ekonomies te bestuur.
Dit kan strafbaar wees met ‘n boete of tronkstraf. Die rekenpligtige moet ook stappe neem teen amptenare wat dié tipes uitgawes aangaan of toelaat.
Verlede jaar het die Ouditeur-Generaal bevind die gesondheidsdepartement het in 2014/15 onreëlmatige besteding van R1,9 miljard aangegaan – 21 persent van hulle totale uitgawes vir die jaar.
Volgens Taute beslaan die onreëlmatige besteding van slegs hierdie 13 departemente R11,6 miljard. Buiten paaie en vervoer in Gauteng, is die ander in hulle visier onderwys, gesondheid en menslike nedersettings.
“Onreëlmatige uitgawes is al die uitgawes wat nie aangegaan is soos die deur die wet voorgeskryf word nie. Dié buitensporige uitgawes wat aangegaan is, kon voorkom word indien die departementshoof sy verpligtinge nagekom het,” het Taute gesê.
“Mnisi het belastingbetalers in die steek gelaat deur te versuim om sy verantwoordelikhede na te kom,” meen sy. “Die wanbesteding van belastinggeld is ‘n nasionale krisis wat dringend opgelos moet word.”
Die department se woordvoerder, mnr. Dumisani Malamule, het by navraag gesê die departement kan nie op hierdie stadium kommentaar lewer nie. “Die departement het nie korrespondensie van enige party oor die kriminele klagtes teen Mnisi ontvang nie, en kan daarom nie kommentaar lewer nie.”
• Lees meer: AfriForum asks municipalities not to charge too much
