Hard newsNews

Ou Laevelder in hof vir besit van olifanttande, luiperdvelle

Mnr. Anton Smit (38), 'n ervare jagter, het glo nie geweet dat hy permitte daarvoor moes hê nie.

MBOMBELA – ‘n Bekende in die stad se jagkringe het Dinsdag in die Nelspruit Landdroshof verskyn. Hy word aangekla van die onwettige besit van olifanttande en luiperdvelle ter waarde van R54 000. Mnr. Anton Smit (38) het nie gepleit op die klagtes teen hom nie en is op waarskuwing vrygelaat.

Lede van die Valke se georganiseerde misdaadeenheid en die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad het Vrydagmiddag op Smit se Mbombela-woning toegeslaan nadat die eenhede inligting ontvang het dat hy die goedere sonder die nodige permitte in sy besit het.

Die Valke se provinsiale woordvoerder,  lt. Dineo Lucy Sekgotodi, het aan Laevelder bevestig dat vier olifanttande in sy besit gevind is. Twee weeg vier kilogram elk en die ander twee weeg die hefte soveel.

“Hy het ook luiperdvelle ter waarde van R40 000 in sy besit gehad,” het sy gesê en bygevoeg dat hy nie die nodige permitte gehad wat die besit daarvan sou wettig nie.
Smit het Laevelder Woensdagoggend, na sy eerste konsultasie met prokureur mnr. Coert Jordaan, te woord gestaan. Hy het bevestig dat die polisie sy woning Vrydagmiddag besoek het, maar wou die besoek en hul vonds in konteks plaas.

“Ek het die olifanttande jare gelede in Mosambiek gekoop. Die luiperdvelle was ‘n geskenk van iemand in Namibië af,” het hy verduidelik. Hierdie vertoonstukke staan, volgens Smit, al jare in sy huis.

Hy het glo nooit daaraan gedink dat hy ‘n permit moes hê om dit te kon besit nie. As kranige jagter, besit Smit wel ‘n aantal vuurwapens en vertoonstukke wat sy belangstelling in die stokperdjie weerspieël.

Die polisie het hom Vrydagmiddag oor die geldigheid van sy vuurwapens ondervra. “Dit was alles in orde,” het hy gesê. Smit het laastens opgemerk dat hy oor betrokkenhied in stropery ondervra is, maar dit ontken het.

“My huis is deursoek en – behalwe vir die olifanttande en luiperdvelle – was alles in orde,” het hy gesê. Hy moet weer op 11 Mei in die hof verskyn.

Lees ook: Bomb threat at Nelspruit Police station causes havoc

Lees ook: 34 renosters in 17 dae gestroop

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button