
‘n Oplettende man het Vrydag van die gemeenskap moontlik groot kopsere gespaar toe hy ‘n kaartkloningsapparaat by die Absa-kitsbank by Crossing-winkelsentrum bespeur het.
Mnr. Braam Stoltz sê hy het om ongeveer 16:00 geld getrek om sy werkers se lone te betaal, toe hy opmerk dat alles nie pluis met die kitsbank was nie.
“Die kaart het moeilik uitgekom, en dit het my laat dink dat iets nie reg is nie,” het hy vertel. Stoltz het ‘n bietjie aan die groen
plastiekmontering waar die kaart uit die masjien kom gepeuter, en opgemerk dit kom los. Hy het dit toe afgebreek om die regte montering daaronder te ontbloot.
“Dit was goed vasgeplak, wat dit baie moeilik maak om te sien.”
Hy het dadelik geweet daar moet ook ‘n kamera wees wat slagoffers se PIN-kodes afneem en het daarna begin soek. Hy het dit goed versteek bo die sleutelbord gewaar.
“Dit was ‘n selfoonbattery en kameratjie en geheuekaart, so die verdagtes kon nie die inligting wat hulle sover reeds gekopieër het in hul besit gehad het nie.
Stoltz verduidelik dat hy nie dink iemand dit sou opmerk as hulle nie daarna gesoek het nie, maar hy is self redelik paranoïes oor kaartkloning. “My vrou (Zelda) is een van daardie mense wat baie oplettend is.
Sy het my ‘n rukkie gelede in ‘n plasing oor kaartkloning op Facebook gemerk en dit het my bedag gemaak op enigiets verdag by kitsbanke.”
Hy voeg by dat hy tot dusver nie ‘n slagoffer van dié sindikate was nie, en hoop sy optrede kon verhoed dat enigiemand anders deurloop.
Nelspruit Post berig al geruime tyd oor dié praktyk om mense van hul kontant te verlos. Daar was lanklaas so ‘n geval in Mbomebla aangemeld, maar die sindikate wat dit bedryf gebruik min of meer standaardskelmstreke om die inligting op mense se bankkaarte en hul PIN-nommers te bekom om hulle te besteel.
Die ondersoekbeampte in die polisie kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie, maar sekuriteitswerkers het mense al telkemale gemaan om versigtig en oplettend te wees wanneer hulle geld ontrek.
Bossies Community Justice gee die volgende raad:
• Moet nooit ‘n vreemdeling vir hulp by ‘n kitsbank vra nie
• Probeer om kitsbanke te gebruik wat deur sekuriteitskameras dopgehou word
• Voel of die toestel vas is voor jy jou kaart insit
• Die oorspronklike toestel is nie veronderstel om metaalstroke in te hê nie
• Let op kleurverskille tussen die masjien en toestel
• Rapporteer enigiets wat verdag voorkom.
- Lees meer:
Card cloning rears its head at ATMs again
Bank-card cloning incidents increase at ATMs in city

