
MBOMBELA – Die ondersoekbeampte wat die saak van strafbare manslag ondersoek nadat mnr. Renier van Vuren op 24 April met sy motorfiets verongeluk het toe ‘n man met ‘n bakkie voor hom ingery het, het wel die video daarvan in sy besit. Hy vra egter dat ooggetuies nou na vore kom.
AO BE Mukhari het by Laevelder kom besoek aflê nadat die koerant Vrydag berig het dat kringtelevisiekameras by die Puma-vulstasie die ongeluk op video vasgelê het. Dit wys hoe ‘n bakkie vanuit I’langa Mall oor Samora Machel-rylaan (N4 onderweg na die middestad) voor Van Vuren inry.
Laasgenoemde se familie is bewus van die video en was ontevrede dat die polisie nog nie die bestuurder van die bakkie gearresteer het nie.
Lees ook: Video van ongeluk: familie verwag arrestasie
Laevelder het polisiewoordvoerder kapt. Dawie Pretorius hiervan ingelig en dié het gesê dat die ondersoekbeampte die video by die koerant sou kom haal en dit deel van die dossier sou vorm. Mukhari het bevestig dat hy bewus is van die video en dit deel vorm van die ondersoek.
“Ons kan egter nie die video alleen gebruik om ‘n arrestasie uit te voer nie. Dit is belangrik dat ooggetuies na vore kom en verklarings aflê. Sover kon ek nog net verklarings by die bestuurder en sy passasiers neem,” het hy gesê.
“Dit is nie waar dat ons met die ondersoek sloer nie. Ek moet egter soveel verklarings moontlik bekom om die saak sterk te maak. Sou die beskuldigde op ‘n tegniese punt vrygespreek word, soos dikwels met video’s gebeur, kan die polisie ‘n siviele dagvaarding in die gesig staar,” het hy benadruk.
Laevelder het betroubaar verneem dat die bestuurder van die bakkie – wat nie geïdentifiseer mag word voordat hy nie aangekla is nie – in sy verklaring genoem het dat hy dié Sondag vanaf sy werk by I’langa Mall gery het. Daar was ‘n passasier voor by hom in die bakkie en verskeie agterop.
Lees ook: Verloofde se ergste vrees bewaarheid
Hy het gesien dat hy dringend brandstof moes ingooi. Hy het by die rooi verkeerslig gewag om regs te draai in Samora Machel. Die lig het groen geword en hy het gery. Hy het in sy tru- en kantspieëltjies gekyk en ook sy kop na links gedraai om te kyk vir aankomende verkeer, lui sy verklaring.
Hy het wel ‘n ander voertuig en ‘n motorfiets sien aankom, maar was van mening dat hulle nog ver genoeg was vir hom om die pad na die vulstasie veilig oor te steek. Die volgende oomblik het hy ‘n harde slag gehoor en gesien dat een van die passasiers agterop die bakkie deur die lug trek, op die enjinkap voor val en uiteindelik in die pad te lande kom.
Lees ook: Vrou en ongebore baba se dood ruk gemeenskap
Hy het in sy verklaring erken dat hy aanhou ry het na die vulstasie, maar kort hierna omgedraai en teruggery het om bystand aan die insittende te verleen. Hy sê voorts in sy verklaring dat hy op die toneel met die dood gedreig is.
Die koerant het ook intussen verneem dat Van Vuren na bewering nie oor ‘n geldige rybewys vir ‘n motorfiets beskik het nie. Sy familie het by navraag gesê dat hulle nie weet of hy ‘n lisensie gehad het nie en Mukhari kon dit ook nie bevestig nie.
Mukhari het gevra dat enige ooggetuies van die ongeluk hom kontak by 082-508-6102.