
MBOMBELA – Dit gaan veel beter met mnr. Errol Hayes (26) wat verlede Sondagaand in ‘n ongeluk betrokke was met sy motorfiets.
Sy suster, me. Erroldene Hayes Goosen sê dat hy sover egter niks van die ongeluk kan onthou nie. “Hy weet net wat ons vir hom kon vertel.” Hayes is op die hoek van Enos Mabuza-rylaan en Seringstraat in Sonheuwel deur ‘n voertuig getref. Hy is Donderdag in Mediclinic Nelspruit geopereer.
Vrydag is hy van die ventilator afgehaal, en Saterdagaand is hy van die intensiewesorg na die hoësorgeenheid geskuif. Hayes Goosen sê hy sukkel nog net ‘n klein bietjie om lekker asem te haal so hy het ‘n pypie by sy neus. “Sy arm is nog baie seer, maar verder is alles okay.”
Sy ribbes is gekraak, sowel as sy pelvis en twee rugwerwels, maar die ernstigste beserings is aan sy byna vergruisde gewrig, waarin penne ingeplant is. Hy kon Sondagaand al ‘n bietjie rondloop in die saal en gesels weer.
“Ons is so verlig, jy verstaan nie,” het Hayes Goosen aan Laevelder gesê.
“Ek is nie seker wanneer hy ontslaan sal word nie. Al waat saakmaak is dat my broer okay is.”
Die skoolseun wat op Vrydag 13 Mei op pad skool toe in ‘n botsing met ‘n minibustaxi betrokke was, is Sondag uit Mediclinic Nelspruit ontslaan. Ooggetuies het gesê die taxi het in Ferreirastraat voor sy motorfiets ingedraai.
Reghardt Strydom (17) se pa Nick sê dit is ‘n groot verligting vir die gesin. Hoewel dit soveel beter gaan met dié matriekleerling aan Hoërskool Nelspruit, is hy nog nie terug by skool nie, en sterk hy nog tuis aan.
“Ons was op ‘n stadium baie bekommerd, maar toe het hy vinnig reggekom. Hy is binne ‘n baie kort tydjie van intensief na hoësorg na ‘n algemene saal oorgeplaas. Nou dra hy net ‘n nekstut. In my oë is dit ‘n wonderwerk.”
