Hard newsNews

Oud-Laevelder dans haar weg na sukses

"Musiek en dans is my passie, en daarom is dit 'n eer om dié liefde as dirigent uit te leef."

MBOMBELA – ‘n Voormalige Laevelder, Lize Marie van Rooyen (28), het onlangs haar droom as dirigent vir die Royal Challengers Bangalore (RCB) in die Indiese Premier-liga uitgeleef.

Terwyl plaaslike helde soos AB de Villiers hulle kolwe geswaai het, het sy saam met meisies van onder meer Durban, Johannesburg, Kaapstad en natuurlik die Rosestad, haar lyf voor duisende kykers geswaai.

“Musiek en dans is my passie, en daarom is dit ‘n eer om dié liefde as dirigent uit te leef,” sê Van Rooyen. Dit bied nie net blootstelling waaraan jy nie ‘n prys kan sit nie, maar dit baan die weg vir ‘n blink toekoms.

“Geleenthede soos dié kom nie elke dag op jou pad nie, daarom moet jy dit met altwee hande aangryp.” Van Rooyen het vir haar ‘n vliegtuigkaartjie Indië toe losgedans na ‘n werwingsmaatskappy genaamd Spotlight Agency, wat haar in Januarie vanjaar raakgesien het. Sy was sedert 12 April daar en het by 15 wedstryde gedans. Sy het Sondag haar 16de en laaste wedstryd gedans tydens ‘n kragmeting tussen RCB en die Sunrisers. Hulle toer het byna op ‘n hoë noot geeïndig, maar RCB het hulle eindstryd met agt lopies verloor. Die meisies het Maandag na SA terggekeur.

Voordat Van Rooyen in 2012 na Kaapstad verhuis het om ‘n vierjaardiploma in musiekteater by Waterfront Teaterskool te voltooi, het sy vir meer as 20 jaar in Mbombela gebly. Hier het sy en haar suster Karin vandat hulle ses en sewe was, ballet begin doen, waarna sy haar laerskoollopbaan by Laerskool Laeveld voltooi het. In Hoërskool Bergvlam het sy haar passie by verskeie eisteddfods en revues uitgeleef onder die leiding van haar grootste inpsirasie, onderwyser me. Elsa Vorster.

Vorster het haar droom vir dans en sing help lewendig hou en ondersteun. “Sy het iets in my raakgesien wat ek self nie raakgesien het nie en ek is baie dankbaar daarvoor. Sy het my kreatiwiteit ontgun,” vertel Van Rooyen.

Ná skool het sy egter argitektuur studeer, maar kort daarna besef sy kon haarself nie genoeg uitleef nie, waarna sy besluit het om musiekteater te studeer.

“As Lize op die verhoog klim is, sy ‘n ander mens; sy blom,” sê haar ma Christa. “Ons is geweldig trots op haar, dit is ‘n goeie geleentheid om raakgesien te word,” voeg sy oor haar kans om dirigent vir die RCB te wees.

Van Rooyen se plan is om verder by die Waterfront Teaterskool te studeer, met die oog daarop om dansklasse te gee.

“My droom is bewaarheid, en die toer na Indië het my laat besef wat my toekoms inhou. Dit is nooit te laat om jou droom na te streef nie,” sê sy.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button