
MBOMBELA – ‘n Hawelose man (64) is gisteroggend dood toe hy op die verlate uitstalvloer van die voormalige perseel van ‘n motorhandelaar in die middestad inmekaar gesak het.
Sy naam is aan die koerant bekend, maar word weerhou totdat sy familie in kennis gestel word.
‘n Karwag wat dit aanskou het, mnr. Themba Singwane, sê die man het oor die vloer op die hoek van Samora Machelrylaan en Henshallstraat gestap toe hy ineenstort en bly lê.
Hy het oorkant die straat vir mnr. Leon Roos by Nelspruit Jewel Exchange gaan roep. Roos sê hy het in Engels gesê, “Daar is ‘n man wat lyk asof hy besig is om dood te gaan.”
Toe Roos by die man kom het daar ‘n bietjie bloed uit sy mond geloop. “Sy rug het fyntjies op en af beweeg, asof hy asemhaal, maar hy het nie op ons kommunikasie gereageer nie.”
Hy het Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit geskakel. Die man is kort na Hi-Tech Medical Services se aankoms op die toneel dood verklaar. Daar was ‘n plasiek Coke-bottel met ‘n bietjie rooi/bruin vloeistof langs hom. Dit is nie bekend of dit wel Coke was nie.
Past. TJ Maré van die Nelspruit Gemeenskapsforum (NGF) sê die man was een van hulle eerste “kliënte” in 2014. Hy het gedrink, maar kon uitdroog en daarin slaag om ‘n suksevolle loodgieterbesigheid te bedryf. Sy lewe het egter sowat ‘n jaar gelede weer drasties verander.
“Hy kon nie weer met drank breek nie. Dit was asof hy ‘n totale weersin gehad het om te rehabiliteer hierdie laaste keer,” sê Maré.
Hy het ‘n goeie hart gehad, nooit ander dwelms gebruik nie, en nooit gebedel nie. “Hy kon dit nie oor sy hart kry nie. Hy het maar ge-partner met dié wat het en het ‘n ouderdomspensioen gekry.”
Hy het ook op ‘n stadium in Maré se huis gewoon, tydens een van die stappe in sy vordering, en het amper soos ‘n oupa vir sy kinders geword.
“Dit is vir my die hartseer deel. Soms is daar ‘n oplewing, maar baie keer gaan hulle net weer terug. Dit is asof hulle opgee, besluit regkom is nie vir my nie.” Maré het aangedui hulle sal sy begrafnisdiens lei.
Mbombela-polisie se woordvoerder, kapt. Dawie Pretorius het bevestig dat ‘n nadoodse ondersoek gedoen sal word.
- Sien ook: I wasn’t born homeless
