Hard news

Geliefde Lydenburg-onderwyseres moet weer leer loop ná glykabelongeluk

Anje Grobler se lewe het op Kersdag drasties verander ná 'n glykabelongeluk.

Wat as ‘n gewone ontspanningsaktiwiteit begin het, het vinnig ‘n diep keerpunt geword vir ‘n plaaslike onderwyseres toe sy tydens ‘n glykabelongeluk beide haar bene gebreek het.

Anje Grobler, ‘n baie geliefde onderwyseres van Hoërskool Lydenburg, se lewe en dié van haar gesin het op Kersdag verlede jaar skielik verander ná haar val van die glykabel.

Na wat verneem word het sy haar linkerbeen op drie plekke gebreek en ook ‘n breuk aan haar regtervoet opgedoen. Sy herstel tans in Busamed Privaat Hospitaal in Mbombela ná haar ontslag uit Mediclinic.

LEES OOK: Gesin lê klag van bedrog ná ‘kokkerot-grot’-gastehuis in Marloth Park

Weer leer loop

Sedert die ongeluk het Grobler reeds nagenoeg 12 operasies ondergaan om haar breuke te rekonstrueer, en daar kan moontlik nog prosedures volg.

Na 36 dae in die hospitaal moet sy nou weer leer loop.

Hoërskool Lydenburg het Dinsdag, 27 Januarie op Facebook bevestig dat die ongeluk plaasgevind het en Grobler se toestand beskryf.

Volgens die inskrywing is sy onder intensiewe mediese sorg.

Herstelpad lank en uitdagend

“Sy het al verskeie operasies ondergaan, met nog prosedures wat moontlik voorlê. Die herstelpad is lank en uitdagend, en alles word tans gedoen om infeksie onder beheer te kry sodat verdere behandeling kan voortgaan,” het die skool verduidelik.

LEES OOK: Lydenburg vrou kyk na perdry as terapie vir kinders

Hulle beskryf Grobler as ongelooflik dapper en sterk tydens hierdie groot uitdaging.

“Sy is ‘n kosbare deel van ons skool, en ons sien daarna uit om haar weer gesond en sterk terug te verwelkom wanneer die tyd reg is.”

Steelburger/Lydenburg Nuus het probeer om Grobler in Busamed te kontak, maar sy kon nie bereik word nie.

Daar is berig dat sy Dinsdag weer ‘n operasie ondergaan het. Intussen stroom boodskappe van familie, vriende, kollegas en leerders van die skool in met wense vir beterskap.


Haar man Paul, dogter Ane-Mé en seun Paul Jr. ondersteun haar deurlopend op haar pad na herstel.

Anje Grobler, 'n baie geliefde onderwyseres van Hoërskool Lydenburg, se lewe en dié van haar gesin het op Kersdag verlede jaar skielik verander ná haar val van die glykabel.
Die Grobler-egpaar, Paul en Anje. > Foto: Facebook

 

* Join the Lowveld Media WhatsApp channel and stay in the loop with breaking news, exclusive updates, and amazing deals from our local advertisers! Click here: https://shorturl.at/NznHy

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button