Editor's choiceLocal newsNews

Seekoei-slagoffer gered deur duikers

'n Man op trekkerbinneband word na vyf ure deur polisieduikers gered na 'n aanval deur 'n seekoei.

KOMATIPOORT – ‘n Polisieman, of poliesman, soos hulle na hulself verwys, se werk is gevaarlik. Dié van ‘n polisieduiker, is selfs nog gevaarliker. Hulle taak is meestal om die lyke van mense wat verdrink het, uit te duik. Hulle moet ook dikwels mense red wat in die moeilikheid geraak het in water. In die Laeveld, moet polisieduikers boonop krokodille en seekoeie aandurf om dit te doen.

Só moes lede van die plaaslike watervleuel onlangs water vol seekoeie aandurf om ‘n man te red wat deur ‘n seekoei gebyt is terwyl hy visgevang het. Dié arme man, ‘n Mosambieker, moes vyf ure met ernstige wonde aan sy voet wag op hulp.

Die voorval het by Seekoeigat gebeur. Volgens kapt. Pottie Potgieter, provinsiale koördineerder van binnelandse waterpolisiëring en duikdienste, het die man – mnr. Phillip Klema (36) – met ‘n trekker se binneband op die water gedryf en visgevang. “Hulle gooi nette uit in die water en vang heeldag só vis,” het hy verduidelik.

Die man het op ‘n stadium verby ‘n seekoei-koei met ‘n kalfie gedryf. Hy het vermoedelik te naby aan hulle verby gegaan en sy het hom aan die voet gehap. Die man kon daarin slaag om weg te kom. Hy het geroei tot by ‘n rietbos in die middel van die water waar hy tot heelbo in ‘n boom na veiligheid geklim het.

Lede van die gemeenskap het hom gesien en die polisie ontbied. Beamptes het egter besef dat hulle eerder kollegas van die watervleuel se hulp nodig gehad het. ‘n Span duikers, onder andere AO Danie Theron en kapteiene Pottie en Joey Potgieter, het toe van Witrivier na die toneel gery.

Theron is eerste op die water uit op ‘n jetski om te kyk waar die beste plek sou wees om Klema op te pik en om die seekoei se aandag van die rietbos af te lei. Hy het ‘n kamera op sy kop gehad en die proses verfilm.

Die Potgieters is toe blitsig met ‘n opblaasboot na die rietbos. Klema het uit die boom geklim, in die boot gespring en hulle het met hom teruggejaag na die veiligheid van die oewer. As jy mooi kyk op die video, sien jy telkens seekoeie se oortjies uit die water kom.

‘n Ambulans van Mpumalanga Emergency Medical Services het aan wal op hulle gewag. Klema se regtervoet was aan flarde en hy het duidelik baie bloed verloor. Hy is na ‘n nabygeleë hospitaal gebring, maar mnr. Ronnie Masilela, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, kon nie bevestig in watter hospitaal hy opgeneem is en of hy wel sy voet behou het nie.

“Ons moes so vinnig as moontlik werk en dit was maar ‘n benoude storie,” het Potgieter gelag.

Duikers red seekoei-slagoffer

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button