EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Elvis Blue oortref verwagtinge by Casterbridge

Elvis Blue het sy aanhangers se verwagtinge Vrydagaand tydens sy konsert by Casterbridge Lifestyle Centre oortref.

WITRIVIER – Debbie Reece, wat die vertoning bygewoon het, het gesê dat sy Elvis se konsert verlede jaar ook gesien het. “Hierdie een was beter,” het sy na die optrede gesê. “Verlede keer het hy nie sy orkes saamgebring nie. Vanaand was fantasties.”

Haar sentiment is deur ‘n ander aanhanger, Magriet van der Linde, gedeel. “Ek was ‘n aanhanger voor sy optrede vanaand, maar nou hou ek nog meer van sy musiek. Hy is ‘n groot ‘entertainer’.”

Die konsert is voorafgegaan deur optredes van jeuglede van die Casterbridge Music Development Academy (CMDA). Elvis en sy vierman-orkes het om 20:30 die verhoog betree. Hy het sy radiotreffers soos “Lifeline” en “Save me” gesing sowel as sy minder bekende liedjies (wat net so gewild is onder sy aanhangers) soos “Rede om te glo”.

Dit was ‘n baie warm aand, maar toe almal eers in die lokaal was, is die ou skuurdeur aan die kant oopgemaak en die lekker koel luggie het almal meer gemaklik gemaak. Elvis het tussendeur gespot dat die orkes groot lawaai van die gehoor benodig om gelukkig huis toe te kan gaan.

Die gehoor het hulle nie twee keer laat nooi nie en na die meer as uurlange konsert hard genoeg lawaai en op die tafels geklap om ‘n encore te kry. Dit was Leonard Cohen se “Halleluja”. Soos Elvis tereg opgemerk het, is dit al soveel keer deur verskillende kunstenaars met verskillende grade van sukses gesing, maar dié groep se weergawe was alles behalwe koud of gebroke.

“Dit was soveel pret. Ons is dankbaar dat ons al die pad hiernatoe gery het,” het kitaarspeler Don Reinecke na afloop van die konsert gesê. Volgens hom woon al die lede op verskillende plekke in Gauteng en die Kaap en ontmoet vir hul optredes.

Na die vertoning het hy en Elvis die gehoor ontmoet en handtekeninge uitgedeel asook foto’s saam met aanhangers geneem. Laasgenoemde het beslis genoeg aandag gekry om self gelukkig huis toe te kon gaan.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button