ELAINE GROBLER
LYDENBURG – Elaine Grobler is beslis nie net ‘n mooi gesig nie. Dié jong vrou van vele talente is ook onlangs as die nuwe provinsiale direkteur van die South African Association of Talent, Modelling and Entertainment verkies. Sy is in die dorp gebore maar het verhuis en op Middelburg skoolgegaan. Na skool het sy elektronika …
LYDENBURG – Elaine Grobler is beslis nie net ‘n mooi gesig nie. Dié jong vrou van vele talente is ook onlangs as die nuwe provinsiale direkteur van die South African Association of Talent, Modelling and Entertainment verkies.
Sy is in die dorp gebore maar het verhuis en op Middelburg skoolgegaan. Na skool het sy elektronika en elektries studeer en haar weer in Lydenburg kom vestig. “Dis soos die dorpsgesegde wat lui; As jy een maal Lydenburg se water gedrink het, wil jy dit weer drink,” skerts sy.
“Dis vir my ‘n klein plekkie, maar die vars lug en rustigheid is anders as die stad se geraas.”
Sy het al op ‘n vroeë oudendom in die kunste begin belangstel. “Dis werklik nie net ‘n passie nie, maar ‘n Godgegewe talent. Jy word daarmee gebore,” verduidelik sy.
Elaine was al as baba deur haar ma vir ‘n babakompetisie ingeskryf en was al so vroeg as 1985 ‘n finalis met Mej. Waterfees. Sy het ook verskeie modelklasse geloop by Elsabe Bothma van Designer Models, Model Girls, Paylines Models en het op ‘n internasionale vlak modelwerk gedoen.
Sy het aan ‘n verskeidenheid kompetisies deelgeneem en titels soos Miss Lady in Redd, Mej. Walpadskloof, Miss Bikini Body, Miss Congeniality en Year of the Model (‘n 2003 kykNET-produksie) ingepalm.
In 2003 het sy haar modelskool geopen. “Dit het baie goed gegaan en van my modelle op internasionale vlak kontrakte en geleenthede in die bedryf gekry.” Elaine het daarna haar vlerke gesprei en ook ‘n talent agenstskap, Global Arts, geopen.
Sy het ook ‘n passie vir die kuns en vermaaklikheidsbedryf en het op ‘n vroeë ouderdom begin dans, insluitend moderne, Latyns-Amerikaans, lyn-en buikdanse. Sy het al aan verskeie kompetisies deelgeneem en telkens met die louere weggestap. Volgens Elaine is sy ook al deur Mark Dooley van Strickly come Dancing genader.
Sang en dans val ook in haar kraal en sy het as kind sang- en dramaklasse geneem. Sy het ook al die advertensie en filmbedryf betree en verskillende advertensies, ekstras in sepies, musiekvideos en Bollywoodfilms verskyn.
Sy is ook heel vlytig met die potlood en kwas en hou van skeppende werk. Sy het ‘n kop vir besigheid en het ook ‘n pastorale kursus by Ecclessia Bybel-kollege gedoen wat sy graag nog wil voltooi. “My pa is al vir meer as 20 jaar ‘n pastoor. Ek gee graag eer aan die Here in alles wat ek aanpak.
Elaine kan ook nou provinsiale direkteur van die South African Association of Talent, Modelling and Entertainment (Saatme) by haar prestasies voeg. Die vereniging is in 1997 deur dr. Ellen Roux gestig.
Dit is op die been gebring om kunstenaars te ondersteun wat nie net nasionaal nie, maar ook op internasionale vlak wil presteer. Dit bied verskeie geleenthede en ‘n goeie platvorm waar slegs die beste van die beste kan deelneem.
Dié internasionale kampioenskap waar 53 lande deelneem word aangebied in die kunste-hoofstad van Hollywood, Los Angeles.
Vir meer inligting oor Performing Arts of inskrywings vir Seff Rigs-werkswinkels kan Elaine by 076-926-6111 gekontak.
