Onthou jy die Lydenburg Vastrappers?
Dié boereorkes was baie gewild op sy dag en het gereëld by gesellighede in die omgewing opgetree.

LYDENBURG – Onlangs te koop aangebied in die Mpumalanga Historiese Belangegroep se nuusbrief: ‘n Tweedehandse kopie in uitstekende kondisie van Tradisionele Boeremusiek – ‘n Gedenkalbum, deur Piet Bester wat in die ’80’s uitgegee is.
Bester was een van die stigterslede van die Tradisionele Boeremusiekklub van Suid-Afrika. Vanweë sy belangstelling in die genre en die min inligting beskikbaar daaroor het hy besluit om self navorsing te doen wat tot die publikasie van die titel gelei het. ‘n Tweede volume is in die ’90’s uitgegee en ‘n derde in 2003. Hy is in 2006 oorlede.
Blaai jy deur die eerste volume kom jy op relatief bekende orkeste en musikante uit die boeremusiekargiewe af soos die Vier Transvalers, Japie Laubscher, David de Lange, Fanie Bosch, Manie Bodenstein, Gerrie Bezuidenhout en Sam Petzer – en dan hier van ons wêreld, die Lydenburg Vastrappers.
Sommer aan die begin van die hoofstuk word ‘n Meneer Dirk Winterbach van Witbank bedank vir die inligting en foto’s. Volgens hom het dié orkeslede hulself leer speel en was sommer gou gewild in die Lydenburg-omgewing en by baie gesellighede te siene.
Hierdie klompie uitstaande musikante se orkes was soos volg saamgestel: Christiaan Willem (Chris) Chomse was die leier en het die konsertina bespeel.
Karinet: Klaas Alexander Erasmus
Klavier: Geertruida Zacharyda Magdalena (Baba) Winterbach (geb. Prinsloo)
Kitaar: Christiaan Willem (Chris) Winterbach.
Die orkeslede was almal verwant aan mekaar. Chris Chomse en Klaas Erasmus was albei neefs van Baba, en Crhis Winterbach en Baba was man en vrou.
Die skrywer meen dat wat die groepie se musiek anders as die boeremusiek van daardie jare gemaak het, is die feit dat hulle ook ‘n klarinet ingesluit het.
Hy skryf: “‘n Groot kenner en eksponent van boeremusiek, wyle dr Hans la Grange, het hulle musiek as puik beskou en het ‘n groot waardering daarvoor gehad. As ‘n mens met die nodige aandag na hierdie besonderse boeremusiek luister, kom jy dadelik onder die indruk van hulle pragtige en vloeiende samespel. Die klarinet se strelende klanke herinner dadelik aan ‘n pragtige bewolkte sonsondergang. Dis kunstig ingeweef by die medlodieë en sorg vir die nodige versiering en afronding van ‘n smaaklike musiekdis, so reg uit ouma se geurige kombuis.”
In 1934 het hulle die volgende plate in Johannesburg gemaak onder die Singer-etiket:
• Bosveld Polka (GE 208)
• Mampoer Settees
• Golfies Polka (GE 209)
• Baba Wals (na Baba vernoem)
• Wissel Polka (GE 211)
• Noodshulp – Vastrap
• Platina Polka (GE 466)
• Loerie Wals
Vir is Bester is dit ‘n groot jammerte dat hulle nie méér plate agtergelaat het nie want daar kan ook met sekerheid aanvaar word dat die meeste van die Lydenburg Vastrappers se musiek hul eie skeppinge was.
Meer oor die orkeslede
Die hoofstuk lees verder: Chris Chomse se vader het uit Duitsland na Suid-Afrika gekom en hom hier gevestig. Chris het hier in ons land grootgeword en was ‘n Boer in murg en been. Hy het egter in 1938 na Kenia geëmigreer en is in 1947 daar oorlede en te Eldoret begrawe.
Dr Kobus Erasmus van Ladysmith het my van sy vader, Klaas Erasmus vertel. Hy (Klaas) is op 3 Julie 1902, op die plaas Grootboom, in Lydendburg se distrik, gebore. Hy was die seun van die bekende Abel Erasmus na wie die Abel Erasmus-pas vernoem is. Reeds vroeg was dit duidelik dat die jonge Klaas besonder intelligent is, en hy was dan ook die eerste seun in daardie kontrei wat matriek geslaag het! Hy is vir verdere studies na die Universiteit Stellenbosch, waar hy hom as onderwyser bekwaam het. Hy het egter nooit skoolgehou nie, maar het saam met sy vader gaan boer.
Dr Kobus vertel die volgende staaltjie: Terwyl Klaas op universiteit was, het die Groot Griep-epidemie uitgebreek. As gevolg van hierdie siekte moes die universiteit tydelik sluit omdat so baie van die studente en personeel siek was. Klaas het die “vakansie” verwelkom en dadelik by sy ouers gaan kuier. Kort na sy aankoms op die plaas het die epidemie ook sy kop daar uitgesteek! Dadelik het arme Klaas die skuld daarvoor gekry en die mense het vertel dat hy die “kieme” van die siekte daar versprei het! Klaas is op ‘n jeugdige ouderdom aan die einde van 1934 oorlede en is te Lydenbug begrawe.
Hendrik Susan en Klaas was groot vriende en het dikwels saam musiek gemaak. Dr Kobus het ‘n foto van hierdie twee vriende gehad, maar ongelukkig het dit verlore geraak.
Baba Winterbach is op 23 April 1899, op Lydenburg gebore en is op 17 april 1960, te Pretoria oorlede. Sy is in Lydenburg begrawe.
Chris Winterbach is op 2 September 1891, te Lydenburg gebore en is op 21 Junie 1978, aldaar oorlede waar hy ook ter ruste gelê is.
Dus, laasgenoemde drie, is almal op Lydenburg begrawe.
Ons klub het besluit om ook aan hierdie veir uitstaande musikante hulde te bring en op 1 Maar 1986 is ‘n gedenknaald ter ere van hulle op die hoek van Voortrekkerstraat en Viljoenstraat opgerig. Nog ‘n mylpaal in ons klub se bestaan waaroor ons baie trots is!
Volledigheids- en interessanteheidsonthalwe moet die volgende brokkie ingesluit word: Aan die einde van ‘Die Platina polka’ skree iemand lustig: “Regop, julle rooies”. Al gewonder wie dit is? Dit is die einste Chris Chomse wat, nadat hulle so lekker gespeel het, hom net nie kon bedwing nie!
Ons hoor graag van enige afstammelinge van die orkes of soortgelyke staaltjies. E-pos: alicheb@caxton.co.za. Om by die historiese groep aan te sluit, stuur ‘n e-pos aan history@routesmp.co.za





