Gesoute kunstenaar bekoor gehoor met sang uit die boonste rakke
Drie kunstenaars het die skare die jaar by Laerskool Burgersfort se Winterfees vermaak.

Nie net was Arno Jordaan onderhoofseun op skool nie maar vandag blyk dit duidelik dat hy steeds voortgaan om ‘n sukses te maak van wat hy aanpak.
Wanneer hy nie besig was om musiek te maak nie was hy hard aan die oefen op die rugbyveld. Ongelukkig moes hy die rugbybal vir die mikrofoon ruil na sy loopbaan begin vlamvat het. Sy loopbaan het begin met ‘n vertoning op die realiteitprogram Zing op kykNET. Later het hy by groot feeste soos Aardklop, KKNK en Innibos opgetree.
Sy eerste solo-album, Altyd was ‘n groot sukses. Daarna volg Ek wil jou hê wat baie suksesvolle was na 40 000 daarvan verkoop is.
Arno het ook al verskeie oorsese optredes meegemaak om die Suid Afrikaners wat geëmigreer het in Australië, Engeland, Dubai en Amerika te gaan vermaak.
Met sy laaste album, Stukkie van my hart, het Arno beslis ‘n stukkie van sy hart aan sy ondersteuners gegee. Ook hierdie album het ondanks moeilike ekonomiese tye goue status bereik.
Arno het nou kragte gesmee met Coleske Artists en hulle is tans besig met die opname van ‘n nuwe album wat eersdaags die lig sal sien.
Die skare by vanjaar se Laerskool Burgersfort Winterfees was ook gaande om die sanger in lewende lywe in hul dorpie te geniet.
