FeaturesLifestyleLocal newsNews

Kry jou somerlyfie nou reg

Dit is egter nooit te laat om 'n gesonde leefstyl te kweek nie. Sit sommer nou skouer aan die wiel en begin om klein aanpassings te maak wat op die ou end 'n groot verskil sal maak.

Desember is om die draai en voor jy jou oë uitvee, sit jy weer hierdie jaar met ‘n groot T-hemp op die strand en beny al die bruin bikinilyfies wat verby loop.

Somerlyfies word in die winter gemaak, maar met die koue wat byt en lekkernye soos malvapoeding en vla, melkkos en ander soetgoed, is dit moeilik om verby al die versoekings te hou.

Dit is egter nooit te laat om ‘n gesonde leefstyl te kweek nie. Sit sommer nou skouer aan die wiel en begin om klein aanpassings te maak wat op die ou end ‘n groot verskil sal maak. Onthou, vandag se keuses is more se resultate.

Laevelder het vroulike lesers gevra of hulle al die moed het om hul lyfies te wys en wat hul geheim tot goeie gesondheid is. Denise Schutte sê sy is reeds besig om op haar lyf te fokus en is besig met “crossfit”-oefeninge. Sharon Nel sê sy is nog bitter ver van haar doelwit af, maar hopelik met ‘n strawwe oefenprogram sal sy dit bereik. En Mandy Orton vra of sy ‘n bikinilyfie vir haar verjaardag kan kry.

Elizabeth Combrink, ‘n dieetkundige van Dietpro, meen ‘n gemiddelde 25 persent van Suid-Afrikaanse vrouens is oorgewig en tot meer as 40 persent lei aan vetsug. Moet dus nooit voel dat jy alleen met jou lyf sukkel nie, want daar is meer as 60 persent van Suid-Afrikaanse vrouens wat die soortgelyke voel. Volgens Combrink is dit beter om te beplan watter veranderinge jy in jou leefstyl en eetgewoontes gaan maak.

“Realistiese doelwitte kan bereik word deur ‘n realistiese aksieplan. Dit is nie realisties of gesond om vyf kilogram in ‘n week te verloor deur op ‘n eetstaking te gaan nie. Dit is wel realisties om 500 gram tot een kilogram per week te verloor deur op te hou om versoete koeldrank te drink en sjokolade te eet. Dit is realisties om elke dag vir 20 minute te gaan stap, maar indien jy onfiks is, gaan jy nie begin met ‘n 10km draf elke oggend nie,” sê sy.

“Weet wat jou swakpunte is en help jou toekomstige self om dit te oorkom. Jy mag baie vasberade wees om niks ekstra te koop vandag nie, maar as jy op ‘n leë maag gaan inkopies doen, is die versoeking om ‘n sjokolade te koop baie groot. Maak ‘n inkopielys en hou daarby.

“Hou ‘n dagboek van jou eetgewoontes en jou emosies wanneer jy eet. Dikwels is daar ‘n patroon van gedrag en emosies wat lei tot swak eetgewoontes. Ongebalanseerde maaltye dra dikwels tot irrasionele hongertes by wat ons ‘dwing’ om die beskuitblik nader te trek,” sê sy.

Volgens Combrink moet jy nooit een voedselgroep uit jou dieet sluit nie omdat ons elke dag vesel- en styselryke kosse nodig het. Dit hou jou bloedsuiker stabiel en keer dat jy uitgehonger vir ongesonde peuselhappies voel. Proteïene soos hoender, melk en eiers is noodsaaklik om ons liggaam elke dag te herstel, maar dit moet spaarsamig gebruik word, want dit is ook die voedselgroep wat die meeste vette bevat.

Groente en vrugte elke dag verskaf die nodige vitamiene. Jy kan tot vyf porsies daarvan per dag inneem. “Drink elke dag genoeg water. Dikwels verwar ons die gevoel van honger en dors. Drink ‘n glas water volgende keer wanneer jy honger voel, moonlik sal dit ook bedaar,” vertel Combrink.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button