FeaturesLifestyleLocal newsNews

Die pur by dié katte-creché

“Daar is niks soos ’n kat om ’n mens se bui te lig nie,” sê Susan van Zyl toe Fly teen haar kom skuur. “Hulle is ‘n anti-depressant op hul eie.” Fly is een van 67 katte wat by Susan en haar man Paul in Sabie nesskop. Sy is ook een van sowat 20 katte …

“Daar is niks soos ’n kat om ’n mens se bui te lig nie,” sê Susan van Zyl toe Fly teen haar kom skuur. “Hulle is ‘n anti-depressant op hul eie.”

Fly is een van 67 katte wat by Susan en haar man Paul in Sabie nesskop. Sy is ook een van sowat 20 katte in dié ‘katte-creché’ wat aan kat-leukemie ly.

“Kat-leukemie werk baie dieselfde as die leukemie wat mense kry,” sê Susan, “behalwe dat dit aansteek deur speeksel.” Susan laat elke kat vir die siekte toets. Dié wat positief toets, word dan van die gesonde katte geskei en in ‘n hok, sowat 3m by 5m, op die Van Zyl’s se erf geplaas sodat hulle nie uit dieselfde bakke eet nie.

Daar is geen genesing vir dié kanker nie, maar Susan en Paul voer die katte met voedingryke katkos “om hul immuunstelsel ‘n bietjie op te

stoot.” Hulle gebruik ook alternatiewe behandelinge om die katte se lewenskwaliteit te verbeter. “Ons wil hulle nie sommer uitsit nie, want hulle

geniet nog hul lewens. Hulle verdien ’n lang en goeie lewe.”

Die egpaar het twee jaar gelede begin om straatkatte in te neem, te steriliseer en te versorg.

“Ons het vyf van ons eie katte gehad toe ons begin het. Vandag is daar net drie van hulle oor, waarvan een, Valie, ook nou leukemie het.”

Hulle betaal vir alle kos en behandeling uit hul eie sak uit. Voor dié stokperdjie ‘n voltydse beroep geword het, was die Van Zyl’s kranige motorfietsryers, maar hulle moes selfs hul geliefde motorfietse verkoop om al die kos- en veeartsrekeninge te betaal. “Ons veeartsrekening was verlede maand or die R12 000 en kos beloop sowat R800 tot R1000 per week,” sê Susan. “Donasies is baie skaars.”

Dr Natli Roufoet en haar span by die Platorand dierekliniek kom die Van Zyl’s te gemoed deur vir hulle 50% afslag op die meeste van die mediese dienste te gee. “Omdat daar so baie katte is en ons ook maar ons deeltjie wil doe nom hulle te help, doen ons baie inentings, velskrape en bloedsmere verniet,” sê Dr Rouvoet. “Ons doen ook ‘n paar sterilisasies verniet en gee 10% af op hulle wetenskaplik-geformuleerde kos.”

Volgens Dr Rouvoet is daar ‘n paar ander gesondheidsrisikos betrokke by die aanhou van só baie katte, maar die Van Zyl’s het alles onder

beheer.

“Daar is altyd ‘n kans op virusse wat in die lug versprei, soos leukemie, maar dis waarom dié in aparte hokke bly. Kennelkaf is ook ‘n moontlikheid, maar dit is nog nooit by die Van Zyl’s aangetref nie. Wanneer okal ‘n gesondheidskwessie opduik, bring hulle dadaelik hul diere veearts toe.”

Susan en Paul is toegerus met vyf afgeskorte areas op hul ruime erf. Daar is een vir leukemie-katte, vier ouer katte, leukemie-vrye katte, katte wat gesteriliseer is en een vir ‘n kat met kat-immuniteitsgebreksindroom (KIGS) -’n virus soortgelyk aan HIV, maar wat slegs in katte voorkom. Daar is een kat met dié virus.

“Nie eers die DBV toets al hul katte vir leukemie of KIGS nie,” sê Dr Rouvoet, “daarom bewonder ek dié egpaar.”

Vroulike katte met leukemie kan nie gesteriliseer word nie, omdat die gesondheidsrisiko te groot is en die fondse eerder gebruik kan

word om die gesonde katte te steriliseer.

“Ons grootste kommer is mense wat trek en hulle katte net so los,” sê Susan. “Hoe kan mens jou kind dan net só los? Dié katte loop rond en kry vinnig kleintjies. Mense moet ook hulle katte steriliseer en kastreer so gou hulle kan. Die idee dat katte minstens een keer kleintjies moet kry vóór hulle gesteriliseer word, is sommer snert.”

Die Van Zyl’s is in die proses om geregistreer te word om so baie katte aan te hou. “As ons ‘n geregistreerde organisasie is, is ons kanse op skenkings baie beter.”

Susan en Paul van Zyl wil graag hê hul viervoetige huismaats moet aangeneem word en maan lesers om hawelose katte aan te neem, eerder as om te koop.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button