Talle weldoeners maak hul beursies oop vir die DBV
Amorim meen die publiek vergeet soms dat hulle nie net omsien na honde en katte nie, maar ook gereeld op plase moet ingryp.

MBOMBELA – Talle weldoeners en veral diereliefhebbers in die Laeveld het onlangs stadig maar seker begin om weer geloof in die mensdom te herstel toe hulle nie net hul harte nie, maar ook beursies vir die Dierebeskermingsvereniging (DBV) oopgemaak het.
Sedert Laevelder verlede week oor die finansiële verknorsing berig het waarin die plaaslike tak van die DBV hulself bevind, het hulp vir dié veilige hawe vir diere ingestroom. Volgens mnr. Louis Amorim, hoofuitvoerende direkteur van die Laeveld DBV, het hulle ‘n reusetoename in die Pledge A Paw-projek gesien, maar ook ‘n skerp styging in skenkings van troeteldierkos.
“Ons het 61 nuwe intekenaars gekry en van 180 tot 241 lede binne ‘n kwessie van ‘n paar dae gegroei,” het Amorim byna oorbluf vertel. Volgens hom was daar ‘n 35-persentstyging in kosskenkings vir troeteldiere.
Maar, sê hy, die doelwit bly 1 000 lede en totdat dít nie bereik is nie, bly die DBV se risiko om sy deure te sluit, ‘n realiteit.
Die Pledge A Paw-projek is op ‘n debietaftrekkingstelsel gebaseer waardeur die publiek aangemoedig word om ‘n minimum bydrae van R50 en ondernemings R100 per maand te maak. Dit is nodig om veral veeartskostes te help dek. Volgens Amorim is daar wel onlangs ‘n reusebedrag van R21 000 op uitstaande veeartsrekenings vereffen.
Dit is ongelukkig slegs ‘n druppel in die emmer. Daar is egter steeds R120 000 uitstaande. Hy sê een van die grootste faktore wat tot dié astronomiese rekening bydra is vee wat hulle moet versorg en behandel. Amorim meen die publiek vergeet soms dat hulle nie net omsien na honde en katte nie, maar ook gereeld op plase moet ingryp.
Volgens hom kan enige persoon wat bereid is om te help, geld direk in die rekening van die veearts betaal en daarna die bewys van betaling na die DBV e-pos. Daar is tans vier veeartse waar bedrae uitstaande is.
Indien die publiek egter nie die debietorderstelsel verkies nie, kan skenkings direk in die DBV se rekening gedeponeer word. Hulle ontvang ook graag enige items wat hulle in hul liefdadigheidswinkel kan verkoop. Die afleweringspunte is by Mbomela en Witrivier se DBV-tak.
Lees die vorige artikel hier
