Video: Top-kunstenaars rock Laeveldse gehoor
Laevelders het al van vroeg af komberse op die gras uitgegooi of in die biertent koue drankies geniet. Die weer het net so mooi saamgespeel.

MBOMBELA – Jan Blohm het die gehoor by Rock of the Bushveld Saterdag by Kwanyoni Lodge aan die gons gehad en daar is hardop gewonder of hy ten tye van sy optrede nugter was.
Dit is geen geheim dat Jan reeds jare lank ‘n stryd teen die bottel voer nie. Hy is al verskeie kere in rehabilitasiesentrums vir dié verslawing behandel.
Laevelder het gisteroggend self met dié Afrikaanse rock-legende gesels en hy het aangevoer dat hy bloot moeg was. “Ek kan glad nie drink nie omdat ek ‘n anti-booze implant het,” het hy vertel.
Jan het ‘n jaar lank nie opgetree nie en het eers verlede week weer op die verhoog geklim. Hy het nie meer ‘n agent nie en doen nou alles self – van administrasie en klank tot sy eie bemarking op sosiale media.”Rock of the Bushveld was ons vyfde show en ek dink dit het net sy tol geëis. Ek is regtig jammer as ek mense teleurgestel het, ek wens die show was net ‘n dag later,” het hy gesê.
Alhoewel hy baie moeg was, sê hy dit was nogsteeds vir hom ‘n baie lekker dag en sal hy graag meer in Mbombela wil kom optree. Sy optrede het nie almal teleurgestel nie – hy het die gehoor steeds nostalgies gelaat met die ou bekende, “Groen Trui” en het ‘n paar van sy nuwe liedjies gesing. ‘n Mens sal sy suiwer, rou stem tussen ‘n duisend ander kan uitken. Dit was die eerste keer dat Rock of the Bushveld aangebied is en die goeie bywoningsyfer het organiseerders se verwagtinge oortref.
Plaaslike groep, Ian Man Show het die vertoning geopen waarna Goat & Hare, Halfmas Middernag Blues Band, Smook & The 3 Beans, Gibraltar en Jonathan Peyper gevolg het. Na Jan het die vroue-rockgroep, Saarkie opgetree. Oud en jonk het nader gestaan, want dis nie elke dag wat jy drie vrouens met elektriese kitare en dromme op ‘n verhoog sien nie. Hulle is nie bang om musiek te maak nie en hulle sit sommige groepe ore aan.
Een van die groepe waarvoor meeste mense gewag het was die immergewilde aKing wat al die pad van Kaapstad afgekom het na die warm Laeveld toe. Hulle het aanhangers op hulle voete gehou met ou en nuwe treffers soos “Against All Odds”, “You and I” en “Safe as Houses”. aKing, wat bestaan uit Jaco Snakehead Venter, Laudo Liebenberg, Hennie van Halen en Andrew Davenport, het in 2007 ontstaan en sedertdien toer hulle die wêreld vol. Hulle volwasse klank lok oud en jonk en Laevelders het met volle bors saamgesing.
Bright Lights Big City en Black Cat Bones het Rock of The Bushveld afgesluit met hul ongelooflike vertonings. Dié dag was ‘n eerste, maar definitief nie ‘n laaste nie. Dit is duidelik dat die gemeenskap honger is vir meer dae soos dié.






































