Sy musiek getuig van rou emosie
Dit was 'n mistige dag in die pragtige dorpie en dit was duidelik dat meeste mense eerder by die huis wou bly.

KAAPSEHOOP – ‘n Handjie vol Laevelders het Sondagmiddag die skielike koue aangedurf om na Bacchus Nel by Bohemian Groove Café te gaan luister.
Op 21 is hierdie sanger, digter en liedjieskrywer se lewe onherroeplik verander toe hy na ‘n motorongeluk moes hoor dat hy nooit weer sou sien nie. Om ‘n uitlaatklep vir sy rou emosies te kry, het hy begin kitaar speel en helder beelde met sy musiek en woorde opgetower. Sy talent is uiteindelik raakgesien deur Piet Botha en Lanie van der Walt, wat hom gehelp het om sy populêre debuutalbum, In die Arms van die Nag, te voltooi.
Hy sing ook saam met Marissa West, wat saam met hom toer en optree. Sy stem maak iets in gehore wakker en almal raak stil om na hom te luister. Hy is uniek en ervaar die lewe uit ‘n unieke oogpunt wat hy deur sy musiek aan die publiek blootlê. In Julie vanjaar het hy ‘n nuwe album, Tussen Junk en Jewellery vrygestel.
Bacchus en sy orkes tree regoor die land op en sy vertonings is definitief iets waaroor mense nog lank na die tyd praat. Alhoewel dit nie ‘n volgepakte vertoning was nie, het hy steeds vir die regte atmosfeer gesorg. Moenie Luna Paige hierdie Sondag by Bohemian Groove Café misloop nie. Eienaar Andrea Fourie soek altyd na die juweeltjies in die Afrikaanse musiekbedryf en wil die beste vermaak vir die Laeveld bied.
“Ons is mal daaroor om kunstenaars hier te laat optree wat nog nie regtig ‘n deurbraak gemaak het nie. Dis hier waar mense ware talent raaksien,”
sê Andrea.











