Tracy Todd se droom word bewaarheid
Sy is 'n bekende kwadrupleeg van Mbombela. Nie net kan sy nie loop nie, sy kan ook nie haar arms gebruik nie. Sy het een wens gehad en dit was om weer in 'n boomhuis te kon sit.

MBOMBELA – As jy al 17 jaar lank aan ‘n rolstoel vasgekluister is en jy het vir net een dag die gebruik van jou ledemate terug, wat sal jy doen?
Tracy Todd is ‘n bekende kwadrupleeg van Mbombela. Nie net kan sy nie loop nie, sy kan ook nie haar arms gebruik nie. Sy het al op haar gewilde blog geskryf wat sy alles graag sou doen as sy vir net een dag die gebruik van haar hande kon terugkry: sy sou ribbetjies eet totdat sy naar word en haar seun sonder ophou druk.
‘n Ander wens wat sy gekoester het, was om weer in ‘n boomhuis te kon sit. Koos Schoonraad van Sonpark wou graag hierdie droom vir haar bewaarheid. Kobus Jacobs, ook van Sonpark en sy vrou, Sandra, bemarkingsbestuurder van Innibos, het nie gehuiwer om in te spring nie en Tracy kon Dinsdagaand ‘n heerlike ete in ‘n boomhuis geniet.
Koos en Kobus het ongeveer twee maande gelede besluit om ‘n boomhuis in Sonpark te bou met die idee om ‘n lekker speelplek vir kinders te bied. Koos het die foto van die boomhuis op Facebook geplaas en dit het dadelik Tracy se oog gevang. Sy het geantwoord het dat sy dit mis om in ‘n boomhuis te klim. Dit is net daar waar Koos besluit het om hierdie wens van Tracy ‘n realiteit te maak.
Hy en die Jacobs-egpaar het besluit om sommer nog ander rolstoelgebruikers na hierdie spesiale geleentheid te nooi. Heel boaan die gastelys was Buks Viljoen, ‘n joernalis by Beeld en Bessie Pienaar, Mbombela Munisipaliteit se kommunikasiebeampte. Hulle is etlike jare gelede, net soos Tracy verlam gelaat is na motorongelukke, maar anders as sy, is hulle parapleë wat nog die gebruik van hulle arms het.
Hoewel Bessie nie die spesiale geleentheid kon bywoon nie, het Buks nie geskroom ja te sê nie. “Ons wou dan ook met hierdie geleentheid bewustheid in die gemeenskap oor rolstoelgebruikers skep,” het Sandra vertel.
‘n Paar genooide gaste het Dinsdagaand by die boomhuis bymekaargekom en Buks en Tracy is met ‘n vurkhyser tot bo gelig. Buks se vrou, Karen en Tracy se lewensmaat, Roy Heine, was bevoorreg genoeg om hierdie spesiale aand saam met hulle te deel. Erna Visagie van Mpumalanga Association of People with Disabilities was ook een van die gaste.
Classic Flowers het die blomme geskenk en Rooikat Liquors die drinkgoed. Wanneer ‘n mens in die pragtige boomhuis sit, voel dit werklik of niemand weet jy is daar nie. Dié twee staan vir niks terug nie en sê hulle kan steeds doen wat alle ander mense kan doen, maar net op ‘n ander manier.
Tracy mis dit die meeste om mense vir wie sy die liefste is, te druk en te soen. “Om my seun weer te kan druk sal die grootste geskenk wees,” het sy weer gesê. En Buks? As hy weer vir ‘n halfuur kon staan, sal hy graag teen ‘n boom wou piepie, skerts hy.
Dis duidelik dat dié twee oor die jare ‘n goeie verhouding opgebou het en hulle maak kort-kort grappies met mekaar. Dinge wat hulle vies maak, is die probleem met parkering en wat ook ‘n groot uitdaging vir Tracy is, is om by trappe te kan opkom.
Die glimlag op Tracy se gesig was ‘n kosbare oomblik vir almal wat daar was en dit is definitief iets wat sy vir die res van haar lewe sal onthou. ‘n Boomhuis het haar weer laat terugverlang na haar kinderdae en sy wou graag weer iets daarvan herleef. “Ek sal nie my gemeenskap vir enigiets in die wêreld verruil nie – die mense hier is te goed vir my,” sê sy.
Heerlike beesstert, kerrie en warm bobotie van Stoep was op die spyskaart, met yskoue roomys en sjokoladepoeding as nagereg. Buks en Tracy is met groot glimlagte op hulle gesigte en hoogs tevrede daar weg.
“Is dit lekkerder as jou eie droom waar word of as jy iemand anders droom waar kan maak?” vra Koos. Om die opgewondenheid op Tracy en Buks se gesigte te kon sien, was vir hom een honderd persent die moeite werd.
• Die Sonpark Ama Wheelie Wheelie-uitdaging ten bate van Mpumalanga Association of People with Disabilities (MAPD) wat op 21 November plaasvind, is Dinsdagaand bekendgestel.
Hiervolgens kan ondernemings spanne van twee teen R700 stuks inskryf. Hierdie fondse sal aan MAPD geskenk word.
Een lid moet die ander een in ‘n rolstoel stoot. Die spanne sal by die verskeie besighede by Sonpark stop en leidrade na hulle volgende bestemming kry. Die span wat almal versamel en na die beoordelaars bring, sal die wenners wees en ‘n wisseltrofee en ander pryse kry. Die rolstoele wat hiervoor gebruik word, sal na die tyd aan MAPD geskenk word. Ondernemings kan meer as een span inskryf en dit is die ideale geleentheid vir die onderskeie departemente om teen mekaar te staan kom.
Navrae: Sandra by 082-853-7885 of sandra@innibos.co.za of Meaghan Else by 082-304-3824 of marketing@sonpark.co.za.


