Vreugde oor vierpotige Keena se veilige terugkeer
Vir nou bly haar avonture as straatkat 'n raaisel en presies hoeveel van haar nege lewens sy oor het, sal net die tyd leer
MBOMBELA – Die kat kom weer. Vra maar vir Keena – West Acres Dierehospitaal se kat – wat ná byna vier maande uiteindelik veilig terug is.
Personeel en kliënte van dié veeartsenykundige praktyk het naderhand gedink Keena het op die ou end ‘n sprekende voorbeeld van die bekende Engelse gesegde, curiosity killed the cat, geword. Sy het egter bewys dat ‘n kat inderdaad nege lewens het. Vir nou bly haar avonture as straatkat ‘n raaisel en presies hoeveel van haar nege lewens sy oor het, sal net die tyd leer.
Keena was een van ‘n werpsel wat in Augustus 2012 by Penryn gebore is. ‘n Vrou wat die rondloperkatte daar voer, het die katjies van hulle ma af weggevat toe hulle vyf weke oud was, met die doel om vir hulle huise te kry. Almal is aangeneem, behalwe Keena. Die vrou het gereël dat die katjie na Pro-Life Pet Rescue gaan en haar by die dierekliniek afgelaai waar me. Karin Erasmus van die organisasie haar sou kom haal.
Lees ook: Boerboel na vyf dae in strik gevind
Dit was egter liefde met die eerste oogopslag tussen haar en die personeel by die dierekliniek en hulle het besluit om haar daar te hou. Ook die kliënte het baie lief geword vir Keena. Jy sou haar gewoonlik op die tafel by die toonbank aantref waar sy gretig gewag het op ‘n vryfie. Sy sou ook sommer tydens konsultasies by die spreekkamers instap om ‘n ogie oor alles te hou.
Keena het die aand van 30 Oktober ongemerk op een van die praktyk se voertuie se dak gespring. Een van die veeartse het later met die voertuig gery en by Town Lodge se kruising het Keena meteens op die enjinkap beland voordat sy afgespring en soos ‘n kat op ‘n warm plaat verboureerd die pad gevat het.
Personeel het orals na haar in die omliggende vleiland gesoek, maar vergeefs. ‘n Foto van Keena is kort hierna op Lowveld Pets Lost and Found op Facebook gedeel en daar is onverpoos na haar gesoek. Soos die weke verbygegaan het, het die kanse op haar veilige terugkeer egter skraal geraak. Tot verlede week.
Lees ook: Snoepie verskyn uit die niet na uiterste reddingspoging
Me. Chantelle de Almeida is na Steers by Crossing waar sy ‘n maer, dog vriendelike kat opgemerk het wat nét soos Keena gelyk het. Sy het rondgevra en mnr. Nicholus Luphoko van Steers en mnr. Bongani Ntiwane van Debonairs het gesê dat sy al etlike dae lank daar rondgehang en van stukkies afvalkos geleef het. “Sy was veral lief vir die hoender en burgers,” het hulle gelag.
De Almeida ken toevallig vir me. Tammy Moore van die dierekliniek en dié het me. Donna Norris, ook van Debonairs, gekontak. Sy het bevestig dat die kat nog daar was. Sy is Vrydag gevang en na die praktyk gebring. Dit was ongetwyfeld Keena.
Sy was maer en swak en word nou oorlaai met liefde en kos. “Andersins is sy gesond en spin sonder ophou,” het Moore vertel. Soos een wat room gekry het. “Sy is duidelik baie bly om weer by die huis te wees.”
Die personeel by West Acres Dierehospitaal bedank graag almal wat gehelp het om na Keena te soek. “Dit is ‘n bewys dat ‘n groep soos Lowveld Pets Lost and Found op Facebook wérk. Ons hoop dit spoor ander troeteldiereienaars aan om nooit moed te verloor as hulle diere wegraak nie,” het Moore afgesluit.
