OPVOLG: Opspraakwekkende sirkel nou klein genoeg na groot bohaai
Motoriste is verheug dat hulle eindelik weer gerieflik in Venn- en Wilhelmstraat kan afry.

Soos belowe, is die verkeersirkel wat die gemeenskap verlede week aan die gons gehad het, teen die naweek herbou.
Weens die grootte van die sirkel het motoriste gevoel dat dit onprakties was. Daar was nie genoeg spasie om óm die sirkel te beweeg nie. Dit is intussen kleiner gemaak.
Die doel van die sirkel is om die vloei van die verkeer by die nuwe ontwikkeling van DE BLOK op die hoek van die twee strate te verbeter. Bouwerk aan die sentrum behoort teen die einde van Junie voltooi te wees.
Mnr. Hugo Schreuder, vervoerbeplanner en verkeersingenieur by Endecon Ubuntu, die ingenieursmaatskappy verantwoordelik vir die padwerke, het die gemeenskap verlede week gerus gestel dat die herbouing teen Vrydag klaar sou wees.
“Die padkonstruksie is teen die naweek grootliks afgehandel soos belowe,” het hy gesê. “Die sirkulasielaan om die sirkel is met meer as ‘n meter verbreed. Hulle is nou besig met afwerkings en om die finale afronding te doen. Slegs teer moet nog in die sirkulasielaan gelê word om die spasie waaruit randstene verskuif is, te vul.” Volgens Schreuder behoort die teer vandeesweek al daarvoor beskikbaar te wees.
Padtekens is reeds aangebring. Padverfmerke en verf van die randstene is egter nog nie aangebring nie, omdat daar te veel vog in die onderliggende materiaal gelaat is ná die paar druppels reën wat verlede week geval het.
“Die verfsubkontrakteur moet wag tot dit heeltemal droog is voor hy kan verf, maar beplan om dit teen vroeg volgende week af te handel,” het Schreuder gesê.
Die munisipaliteit het die nuwe sirkel goedgekeur en is tevrede met die verbeterings. “Tot dusver het ons geen verdere klagtes van die gemeenskap ontvang nie.”

Daar is lig in sig in die sirkeldebakel
Bouwerk aan ‘n verkeersirkel by die kruising van Venn- en Wilhelmstraat het nie net inwoners in die omgewing nie, maar ook die gemeenskap, die afgelope paar dae in rep en roer.
Volgens die ingenieursmaatskappy verantwoordelik vir die bouwerk, Endecon Ubuntu, het hulle reeds gister met die herbou van die sirkel begin en sal dit teen die naweek klaar wees.
“Die bouproses is nog nie klaar nie. Tans is daar konstruksietoerusting en boumateriaal wat toeganklikheid vir padgebruikers bemoeilik. “Die ontwerp is só dat dit volledig oorrybaar vir motoriste moet wees. Die sirkel gaan kleiner gemaak word, maar die impak op die operasionele aspekte daarvan moes eers volledig deur die Mbombela-munisipaliteit goedgekeur word,” sê die vervoerbeplanner/verkeersingenieur van Endecon, Hugo Schreuder.
Die doel van die sirkel is om die vloei van die verkeer met die nuwe ontwikkeling van DE BLOK op die hoek van die twee strate te verbeter.
Die bouproses aan die sentrum behoort teen die einde van Junie voltooi te wees. Die bouery is na vele klagtes vir eers gestaak.
‘n Terreinvergadering het tussen verteenwoordigers van die huiseienaarsvereniging van Matumi asook die Nelspruit Gholfbaan plaasgevind om die klagtes van die inwoners aan te spreek. “Die besprekings was positief en sinvolle oplossings is gevind,” sê Schreuder.
Die sirkel sal net effens bokant die huidige padoppervlak verhewe wees, die randstene sal volledig oprybaar wees en dit sal só geverf word, dat dit duidelik sigbaar is. Randstene sal ook so gebou word dat die oorgang relatief maklik is en dus nie gepaardgaan met ‘n ongemaklike stamp, sou daar oor die randstene gery word nie. Die radius van die sirkel is funksioneel en spesifiek ontwerp sodat voertuie doeltreffend U-draaie en draaibewegings kan maak.
Daar sal ook ‘n gewysigde ontwerp geïmplementeer word waarby die sirkel se diameter verklein word en die sirkulasielaan diensooreenkomstig verbreed gaan word. Soos oorspronklik ontwerp, sal ondersteunende padtekens en padverfmerke aangebring word in ooreenstemming met die vereistes deur die South African Road Traffic Signs Manual.
“Ons stel die geduld van die inwoners hoog op prys. Wees gerus. Gereelde padgebruikers in die omgewing sal nie na afloop van die bouwerk verontrief word nie, maar eerder hierdeur bevoordeel word, ” sê Schreuder.
Nelspruit Post het die week ‘n vraag op Facebook gesit na aanleiding van die nuwe ontwikkeling op die hoek van Wilhelm- en Ferreirastraat, merendeels oor die sirkel. Die gemeenskap het so gereageer:
• Michelle Lamprecht Brand – Die sirkel is beslis nie prakties nie. Dit is te groot.
Daar is reeds verkeersopeenhopings in die week, nou gaan dit nog moeiliker wees met die oggendverkeer.
• Fidus Moldenhauer – Dit is nie ‘n sirkel nie, dit is ‘n hele eiland. Belaglik!
• Hannelie Sadler – Ons woon nou wel nie daar nie, maar moes so ‘n paar dae gelede daar verbygaan, en ag hemel tog. Wie het tog daardie sirkel se afmetings geneem? Die spasie is net heeltemal te min!
En daardie is nou een plek waar jy sal sien hoe mense mekaar se karre stukkend gaan ry. Dit is sommer gek.
• Johann Maree – Moes hierdie sirkel nie onder by die verkeerslig gekom het nie? Daar was sprake dat hulle die verkeerslig sou wegvat en ‘n sirkel daar bou. Tipies die nuwe Nelspruit – as jy nie weet hoe om ‘n probleem op te los nie, bou jy ‘n sirkel.
• Gert L Coetzer – Geen vragmotor of bus sal die pad meer kan gebruik nie en my bakkie se bande skuur teen die randsteen om om die sirkel te kan kom.
• Marietjie Oosthuizen – Die grootste sirkel wat ek nog gesien het in so ‘n klein spasie. Die beplanners daarvan slaag verseker in hul doel om verkeer se spoed te breek maar het amper nie genoeg ry-spasie vir ‘n voertuig gelos nie.
