Tegnologie ingespan om renosterstropers vas te keer
Met tegnologiese "oë" wat data op rekenaartablet aan veldwagters in reservate beskikbaar maak en so reaksietyd van helikopters en veldwagters te voet verkort, is daar weer hoop in die stryd teen renosterstropers.
MBOMBELA – Tegnologie kan ‘n drastiese verandering in bewaring teweegbring indien een van die reuse in die wêreld, asook sy filiaal in Suid-Afrika, se planne teen die bekamping van renosterstropery doeltreffend ontplooi word.
“Gewoonlik strook wat in die bos aangaan en tegnologie nie met mekaar nie, maar ons het juis ‘n oplossing daarvoor. Dit kan die spelwisselaar wees wat ons al so lankal nodig het,” sê mnr. Grant Bodley, uitvoerende hoofbestuurder van Dimension Data (Midde-Ooste en Afrika).
Dimension Data het met die globale tegnologie-maatskappy Cisco hande gevat om oplossings vir die bekamping van stropery te vind. Die maatskappye het ‘n kwarteeu van verbintenis agter die rug.
Revolusionêre stelsels en netwerke is onlangs deur die tegnologiereuse in in ‘n privaat reservaat aangrensend aan die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) in werking gestel.
Die doel daarvan is om veilige toevlugte vir renosters te skep waar die toegang tot en die vertrek uit die wildtuin deur tegnologie beheer word.
Met die inwerkingstelling van die stelsels en netwerke sal niemand meer in ‘n reservaat kan wegkruip nie. Met hierdie tegnologie is dit moontlik om wettige en onwettige besoekers aan ‘n wildreservaat te monitor. Selfs boosdoeners met ‘n kriminele rekord sal verhoed kan word om die reservaat wettig binne te gaan.
“Vantevore kon almal kom en gaan soos hulle wil – of dit nou personeel, besoekers, kontrakteurs of toeriste was. Niemand het die besonderhede van besoekers in detail nagegaan nie,” het Bodley gesê. “Die doel is om in die toekoms proaktief eerder as reaktief op te tree.”
Eers was die soort betrokkenheid by sekuriteit in wildreservate nie moontlik nie as gevolg van beperkte inligtingstegnologie-infrastruktuur.
Deel hiervan is tegnologiese “oë” wat veldwagters en sekuriteitspersoneel kan help om stropers vas te trek deur middel van inligting oor hul bewegings.
Seismiese opsporingstoestelle wat voertuie monitor en toegangstegnologie by hekke wat biometriese data oor besoekers verskaf, vorm deel van die opsporingsnetwerk.
Sulke data word dan met beelde vanaf hommeltuie met infrarooikameras en hittebeeldtegnologie vanaf heinings aangevul.
Vanaf die dataversamelings-kontakpunte, soos die kameras, vloei data deur na ‘n stelsel waar dit ontleed word. Dié inligting word daarna deur middel van ‘n rekenaartablet aan die veldwagter of aan die sekuriteitspersoneel aangestuur.
Hulle sien hierdie data en beelde op ‘n tablet waar hulle ook al in die reservaat by ‘n WiFi-sone is. Hulle kan toeslaan indien daar enigsins agterdog oor bewegings naby renosters bestaan.
Selfs die presiese GPS-koördinate van ‘n stroper se ligging en beelde van sy presiese plek in die wildreservaat kan vir die veldwagter beskikbaar wees.
Daar kan dan proaktief aksie teen die verdagtes geneem word. ‘n Helikopter, veldwagters en sekuriteitspersoneel kan daarna ontplooi word om hulle vas te trek.
Dit verskil drasties van vorige strategieë waar vele van die anti-stropingsplanne rondom die renoster self gedraai het.
“Met hierdie metodes raak ons nie aan die dier nie. Dit wil sê daar is geen sensors in horings of mikroskyfies onder die vel nie. Die risko’s vir die renoster is dus minder.”
In die eerste fase van die inwerkingstelling van die Connected Conservation-tegnologie is inligting bymekaar gemaak sodat ‘n hoë sekuriteit netwerk met WiFi-toegangsgebiede rondom sleutelpunte opgestel kon word. Hierdie fase is voltooi.
Die inligting word volgens cloud-tegnologie gestoor en volgens beste internasionale praktyke beveilig.
Fase twee van die stelsel behels die instelling van kringtelevisiekameras, inwerkingstelling van infrarooikameras, hittebeelde en voertuigsensors. Dimension Data het alreeds die reserwe area netwerke (waarin die inligting gestoor is) met Cisco-tegnologie ontplooi. Dit is een van die eerste installasies van sy soort in die wêreld.
“Ons droom is om met hierdie hoë tegnologie-oplossing renosterstroping te bekamp en veldwagters toe te rus met waardevolle insigte en data om ingeligte besluite teen stropers en stropery te maak.”
