Brandsiek Laeveldleeus verdeel omgewingsbewustes in twee kampe
'n Aantal brandsiek leeus van 'n eens trotse trop het die vraag wat omgewingsbewuste verdeel weer na vore gebring: Moet wilde diere behandel word as hulle in natuurreservate siek word of moet die natuur toegelaat word om sy gang te gaan?
MBOMBELA – “Los die leeus met die brandsiekte en laat die natuur sy gang gaan,” het dr. Gerhard Verdoorn, direkteur van BirdLife en die Griffon Poison Information Centre en chemie professor Donderdag aan Laevelder gesê oor die brandsiek Styx-trop leeus in die Sabi Sabi-wildreservaat.
Hy is ten gunste van die bestuur van dié wildreservaat se besluit, omdat hy ook glo die diere moet nie met pyle verdoof en vol chemikalieë gespuit word om die siekte teë te werk nie.
‘n Hewige debat gons nou al langer as 10 dae op Facebook nadat foto’s van fotograaf Inus du Preez van twee brandsiek en uitgeteerde leeus by ‘n watergat van die Sabi Sabi-wildreservaat by die Nasionale Krugerwildtuin se Kruger-hek groot ontsteltenis onder diereliefhebbers veroorsaak het.
Du Preez glo dat waardigheid aan die leeus herstel moet word.

‘n Oproep is aan die nasionale kantoor van die DBV gemaak om in te gryp en ‘n aanlynpetisie is aan beswaardes vir ondertekening beskikbaar gestel.
Omgewingsbewustes pleit dat daar onmiddellik deur die bestuur vir behandeling maatreëls getref word en stel voor die leeus word verdoof en vir brandsiekte behandel.
Die twee leeus het reeds gevrek, maar die debat duur voort.
Daar is ook die ander kamp wat teen inmenging is.
Die bestuur van die reservaat het met vyf veeartse en die staatsveearts beraadslaag voordat hulle die besluit geneem het.
Die beslissing is ook in ooreenstemming met ander rolspelers se nie-inmengings-beleid in die groter beskermde bewaararea waarin Sabi Sabi sowel as die KNP val.
“Vir die bestuur gaan dit oor die groter prentjie. Ons voel dat prosesse in die natuur toegelaat moet word om hul gang te gaan,” sê mnr. David Powrie, hoofveldwagter van Sabi Sabi.
Dié wildreservaat se beleid is dat daar geen inmenging by die kringloop van die natuur is wanneer wilde diere se voortbestaan deur natuurlike prosesse beïnvloed word nie.

Daar word streng by die beleid gehou. Hy beklemtoon dat die chroniese droogte sowel as ander omgewingsiektes soos tering, die leeus se immuniteit teen die siekte verlaag het. Brandsiekte, skurfsiekte of jeuksiekte (mange), word deur mikroskopiese, parasitiese myte veroorsaak wat op vel en haarwortels leef.
‘n Gesonde immuunsisteem hou die parasiete in toom. Wanneer die dier gestres is, kan die myte buite beheer raak en veroorsaak dat hare uitval en die haarwortels verstop raak, wat dan tot sere ly.
Verdoorn sê dat die leeus glad nie die enigste diere is wat dit het nie. Jakkalse in die omgewing van Phalaborwa en Hoedspruit is al ses maande aan ‘n brandsiekepidemie blootgestel.

“Die jakkalsbevolking het heeltemal hand uitgeruk in die omgewing en dit was die natuur se manier om balans te bring. Daar is nie meer ‘n jakkals in daardie omgewing oor nie,” het Verdoorn gesê.
Hy het ook tydens onlangse jagtogte ervaar dat vele koedoes sowel as rooibokke tans brandsiekte het.
Veeartse het aan hom bevestig dat die diere as gevolg van die droogte, onder stres is. In sulke omstandighede neem die myte wat die velsiekte veroorsaak oor, en ‘n epidemie kan ontstaan.
“Die wild sal nie die impak van hierdie siekte vryspring nie. Met die jakkalse het die kompetisie vir kos weer stres veroorsaak,” verduidelik Verdoorn.
Hy glo egter iets waaraan omgewings-bewustes eerder aandag moet skenk, is hoeveel stres op leeus gesit word deur “Land Rovers wat op die leeus se gatte sit”.
Hierdie onnodige druk wat tydens besoeke deur toeriste op diere geplaas word, bekommer hom.
“Ons dink leeus sien ons nie as ons daar met ons kameras sit, maar dit plaas geweldige druk op hulle. Dink hoe jy sou voel as jy aan tafel sit en ‘n klomp kameras draai op jou?”
