Hard newsLocal newsNews

Uitgeteerde pitboelreun met koeëlwond dalk skakel na hondegevegte

Mbombela se eie Ace Ventura en dierespeurder, Jaco Klopper, het in 'n soektog na twee verlore honde afgekom op enige honde-eienaar se ergste nagmerrie, 'n Pit Bull terrier wat erg mishandel is en boonop weggesteek is onder bakstene en sinkplate. Die hond is nie sonder rede so buite sig gehou nie, glo Klopper.

MBOMBELA – Toe Jaco Klopper van Mpumalanga Animal and Crime Watch (MACW) ‘n paar weke gelede ‘n Rottweiler in Mbombela uit ‘n sloot opgetel het wat aan slegte en veelvuldige bytwonde gevrek het, het hy vermoed dit is moontlik ‘n sogenaamde lokhond.

“Sulke honde word gebruik om vegtershonde vir hondegevegte voor te berei,” sê Klopper.

Die honde word aan ‘n ketting getrek terwyl ‘n ander honde aangehits word om hom aan te val. Hy het geen manier om te ontsnap nie.

“Dit word gedoen sodat die vegtershond geleer word om letterlik tot die dood te baklei,” verduidelik Klopper.

So ‘n hond word as lokaas gebruik in tot drie gevegte per dag. Wanneer hy so swak en beseer is dat hy verder van geen nut is nie, dan word hy doodgebyt deur die vegtershonde en iewers weggegooi.

Toe mnr. Geoffrey Dibakoane Klopper geskakel het om hom te help soek na sy twee pitboelhonde in die Kabokweni area,  het Klopper onmiddellik aan die lokhond gedink.

‘n Vermoede het reeds tydens sy vrywillige verwydering van lokvalle in gemeenskappe by hom posgevat dat daar moontlik iewers in Mpumalanga onwettige hondegevegte plaasvind.

Sy ander vermoede is juis ook dat honde in Mpumalanga opgelei en voorberei word vir hondegevegte in Gauteng.

Tydens sy vrugtelose soektog na die twee honde het hy op ‘n ander erg mishandelde pitboelreun in Bhuga afgekom.

Klopper beskou die swart reun as ‘n moontlike skakel tot onwettige hondegevegte.

As een van Mbombela se voorste vegters teen wreedheid teenoor diere en welbekend as hondespeurder, is hy gewoond om honde in slegte omstandighede aan te tref.

Die uitgeteerde hond is sonder water en kos weggesteek gehou onder bakstene en sinkplate in die versengende hitte. Hy het die hond gekonfiskeer.

Op sy kop was haelgeweermerke en sy pels was gemerk met letsels van vorige beserings.

“Die omstandighede waarin ek hom gevind het, het my dadelik onraad laat vermoed. Die hond is met rede weggesteek,” het Klopper benadruk. “Dit is wat gebeur as ‘n geliefde troeteldier in die verkeerde hande beland.”

Hy het die hond na die Nelspruit DBV geneem. Hy is Thor gedoop.

Die hond is reeds besig om te herstel sê Charlene Zinserling van die DBV se bestuurskomitee. “Ook die koeëlwonde is besig om te genees,” het sy bevestig.

Klopper het Thor al verskeie kere uitgeneem op ‘n wandeling. Die hond is nou beskikbaar vir aanneming.

Die twee oorspronklike pitboelhonde wat Kloppers gaan soek het, is deur die eienaar in die omgewing van Kabokweni in die veld bemerk.

Die Pitt Bull Federasie van SA het Donderdag ‘n nuusverklaring uitgereik om pitboel-eienaars te waarsku om nie enige details rondom hul verlore honde of vemroedens rondom hondegevegte op Facebook of op sosiale media te deel nie aangesien die baasbreine in hondegevegsirkels sulke blaaie dophou en die inligting tot hul voordeel gebruik.

Eienaars word aangeraai om eerder die spesiale ondersoekeenheid van die hoofkantoor van die DBV in kennis te stel van enige vermoedens en agterdogtige gedrag rondom hondegevegte.

Die Federasie het eienaars aangeraai om slegs die DBV te kontak aangesien net dié organisasie ‘n mandaat het om hondegevegte te ondersoek by wyse van korrekte hantering van bewysstukke en forensiese vee-artse. Gebruik die volgende adres vir aanmelding: Specialinvestigations@nspca.co.za

*In Mbombela is eienaars van groot honde wat wegraak nou onrustig dat hul gesteel is om by hondegevegte betrokke is. Ms Arene Prins se Bull Mastiff/Rifrug kruising is reeds ‘n week soek en dit is nou een van haar groot vrese. As jy dalk so ‘n hond gewaar skakel 072 254 4334.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button