Bouwerk fluks aan die gang na fratsstorm by sjimpansee-skuiling
Chimp Eden se sjimpansees se hoof koelteboom in die voorste kamp is ontwortel tydens 'n fratsstorm. Skade is groot aan die hoofgebou se restaurant waarop dit geval het. Bouwerk is inderhaas onderweg om toergroepe te laat aansit by buffetetes en internasionale beskermvrou en sjimpansee bewaringsikoon, Jane Goodall, tydens haar besoek te onthaal.
BARBERTON – ‘n Fratsstorm het nege dae gelede by die toevlugsenrum vir sjimpansees, Chimp Eden, aansienlike skade veroorsaak toe ‘n reuse bloekomboom ontwortel is en op die opskeparea van die hoofgebou se restaurant geval het.
Die skade aan die dak en die eetvertrek word tans herstel deur ‘n bouspan.
Die stormskade is ook vir die sjimpansees ‘n slag want dit was een van hulle gunsteling skaduwee- en speelbome.

“Dit was hul hoof-skaduboom in die voorste speelkamp en nou is hul daarsonder. Hulle sou dikwels vir twee ure tydens middagete daar skuiling teen die son soek,” sê mej. Chantell Greyling, gids by die toevlugsentrum.
Die toevlugsentrum, waar tans 32 voorheen mishandelde sjimpansees versorg word onder die oorsigtelike toesig van die Jane Goodall Instituut SA, het nog “nooit so ‘n windspoed ervaar nie.”
Die sentrum be-oog om die herstelwerk vandeesweek voltooi te hê vir die besoek van Me. Goodall wat internasionaal bekend is vir haar toewyding om sjimpansees se welsyn te bevorder.
Sy is ook in die Laeveld om fondsinsameling tydens ‘n ete vir Chimp Eden op 12 Februarie te doen.
Die skuiling het tans nie genoeg fondse om klimraamapparaat te bou waaronder ‘n area geskep kan word wat skadu teen die fel Laeveldson vir die sjimpansees kan bied en so die plek van die boom kan inneem nie.
‘n Kwotasie is reeds ontvang om so ‘n klimraam en verrykingsentrum op te rig waar die sjimpansees in die skadu kan sit en aan toue kan rondswaai.
Enige een wat ‘n bydrae wil maak vir die bou van die nuwe klimraamskuiling en ander onkoste kan ‘n elektroniese inbetaling doen in die volgende rekening.
Inbetalings kan ook gedoen word op:
Jane Goodall Institute South Africa
Nedbank Hyde Park
Kode: 197205
Tjekrekening No: 1972082264
Die 32 diere het ook hooi, groente en vrugte, en komberse nodig. Skakel 0797771514 as jy kan handjie bysit.
* Ooit gewonder wat van Thabu, Chimp Eden, se “glipsie” geword het? Lees vandeesweek in Laevelder watter streke die nou reeds vierjarige sjimpansee aanvang en hoe dit met die res van die familie na die afsterwe van tropleier Charlie gaan.

