Onderrig in jou moedertaal kom onder die loep
Moedertaalonderwys bied leerders optimale geleenthede

MBOMBELA – Het jy as kind onderrig in jou moedertaal ontvang? Dit is ‘n voorreg wat elke kind ongelukkig nie beskore is nie.
Navorsers wêreldwyd het oor dekades intensiewe navorsing gedoen oor die voordele wat moedertaalonderrig vir leerders inhou, ongeag wat die taal ook al mag wees. In 1996 is daar tydens die Den Haag-konvensie bepaal dat dit ideaal is dat ‘n kind in die primêre skool sy onderrig in sy of haar moedertaal moet ontvang.
Daar is voorts verklaar dat dit veral die eerste ses jaar van skoolonderrig is wat in die moedertaal moet geskied ter wille van die optimale ontwikkeling van lees- en leervaardighede.
In 1999 het UNESCO besluit om ‘n spesiale dag ter viering van moedertaal in te stel en sedert 2008 word Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie gevier.
Hier plaaslik val die kollig ook vandag op die belangrikheid van moedertaalonderrig en Afrikaans.com neem aan hierdie inisiatief deel. Afrikaans.com is ‘n opwindende platform waarop uitgesoekte Afrikaanse organisasies, suksesvolle Afrikaanse projekte en inisiatiewe blootstelling kry.

Die webblad bied ‘n bymekaarkomplek vir almal wat hulself deel voel van die taalfamilie of sommer net nuuskierig is oor die Afrikaanse leefwêreld. Met die oog op die belangrikheid van moedertaalonderrig, en al hoe meer vrae wat in ‘n veranderende taallandskap hieroor opduik, is daar ‘n splinternuwe en interaktiewe moedertaalonderrigblad op die Lekker Leer-afdeling op Afrikaans.com bekendgestel.
Op hierdie bladsy kan jy meer oor die belangrikheid van moedertaalonderrig vir toekomstige sukses lees. Jy kan meer oor veeltaligheid leer en kundiges sal vrae oor hierdie belangrike onderwerp beantwoord.
Dr. Michael le Cordeur, hoof van die departement kurrikulumstudie aan die fakulteit opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch is ook die ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad en een van Afrikaans.com se beskermhere. Le Cordeur is ‘n ywerige kampvegter vir moedertaalonderrig en voel baie sterk dat die regering die voordele daarvan beter aan ouers moet oordra sodat hulle werklik die waarde en voordele daarvan moet begryp.
“Moedertaalonderwys bied leerders optimale geleenthede om hul wetenskap rasioneel en intellektueel te beoefen,” sê hy. “Leerders wat onderrig word in die taal waarin hulle die vaardigste is, vaar die beste omdat hulle die hoërordevrae begryp. Daarteenoor struikel leerders wat nie in hul moedertaal leer nie met vrae soos ‘verduidelik in jou eie woorde… wat is jou mening oor… wat dink jy sal die gevolg wees as…?'”
Waarin lê die waarde van moedertaalonderrig?
Daar is vele nasionale, maar ook internasionale navorsingsprojekte wat onteenseglik bewys dat moedertaalonderrig vir so lank as moontlik, die heel beste opsie vir enige leerder is, ongeag wat sy of haar moedertaal of verstandelike vermoëns is.

Navorsers het onder meer bevind:
• Die belangrikste, noodsaaklikste kognitiewe ontwikkeling van enige leerder vind in die moedertaal plaas.
• Die bemeestering van basiese leervaardighede en konsepte in die moedertaal is essensieel voordat ‘n tweede taal eers as vak en later geleidelik as tweede onderrigtaal ingestel kan word.
• Moedertaalonderrig is die brug tussen die voorskoolse jare en skooljare. In jou huistaal maak die leeromgewing net meer sin.
• Wanneer ‘n leerder wiskunde en wetenskap in ‘n nie-moedertaal moet aanleer, is die kans op uiteindelike sukses, baie skraal.
• Moedertaalonderrig is tot voordeel van die leerder se taal- en denkontwikkeling. Die gebruik van ‘n nie-moedertaal op ‘n te vroeë stadium lei tot swak skoolprestasie in die algemeen.
• Basiese konsepte wat die boustene vorm vir latere doeltreffende leer word die heel beste deur moedertaalonderrig vasgelê.
• Moedertaalonderrig verbeter ook jou vermoë om ‘n tweede en/of derde taal aan te leer en bevorder dus veeltaligheid.
In kort: moedertaal-onderrig maak dit makliker en lekkerder om te leer!

