Video: Beskermvrou van wilde perde red vullens en veg vir perde se regte
Vandag is dit wêreldwyd Perdebeskermingsdag. Die Laeveld kan met ons eie beskermvrou van die wilde perde by Kaapsehoop, Reinette van Niekerk, spog. Sy stuit vir niks om die trop te beskerm nie.
KAAPSEHOOP – Vir die soveelste keer op ‘n Saterdagoggend stap Reinette van Niekerk, koördineerder van Kaapsehoop Wild Horse Rescue van die afgelope 10 jaar, na waar hingste in die plantasies aan die baklei is.
Deur die week werk sy vir Sappi as ‘n administratiewe assistent. Naweke en los tydjies in die week, spandeer sy aan die versorging en welsyn van die wilde perde.
Kyk hoe Van Niekerk onlangs ‘n weesvul gered het
Om ‘n weesvul te red is maar bloot die deel van haar toewyding aan die trop.
“Enkele merries is in seisoen. Van die bakleiery kan by die hingste op ernstige wonde uitloop. Dit is ‘n natuurlike proses wat swak bloedlyne uitwerk. As vrywilligers verkies ons om nie te veel in te meng nie,” verduidelik Van Niekerk.

Haar oë glip na waar twee hingste met hul pote in die lug na mekaar klap.
“Ons het ‘n groot wanbalans, met die hingspopulasie op 80%. Die jaar is daar ook sover nog net een merrievul gebore. As een merrie sterf, het die hele trop probleme.Dit is problematies.”
Tevrede dat die hingste vir eers ophou baklei het, klim sy in haar motor. Sy is op pad na waar sy op die platorand gereed gaan maak om die wilde perde te dip.
‘n Verfbalgeweer word hiervoor gebruik. ‘n Balletjie vol bosluisdip word teen die perd geskiet en breek met impak oop. Tussen Van Niekerk, veearts Donnie Engelbrecht en vrywilliger Leon Smith het hul dié verbeeldingryke oplossing vir die bosluisepidemie onder die perde in werking gestel. Saam met Christo Germishuys is hulle haar mentors.
“Hulle is my rolmodelle en is altyd daar as ek nie self die pas kan volhou nie.”
Die perde lig hulle koppe, kyk net ter-sluiks na haar, gewoond aan die blondekop.

“Die perde gaan voluit as mens iets van hul vra. Daar bestaan nie ‘n mens op hierdie aardbol met ‘n hart so groot as dié van ‘n perd nie,” sê sy.
Pylgewere word uitgehaal wanneer die perde verdoof moet word, sodat beserings behandel kan word. Dis nie so ‘n maklike prosedure nie, getuig Van Niekerk.
“Die perd hardloop ten minste vyf minute voor hy omval en slaap. Met hierdie terrein is dit baie gevaarlik.”
Dis nog lank nie die enigste probleem waarvoor Van Niekerk ‘n oplossing moes vind nie. ‘n Epidemie van perdegriep het onlangs uitgebreek. Ook word die perde soms deur besoekers onverteerbare kos gevoer. Dit lei tot ernstige koliek.
“Na elke geval kyk jy of jy als reg gedoen het. Jy leer uit jou foute sodat jy die volgende keer beter voorbereid kan wees,” sê sy nadenkend.
Haar metgesel op vele van haar reddingspogings is Jakkie du Toit.

“Toe vyf perde voor my huis deur weerlig doodgeslaan is, het ek en Jakkie laat daardie middag hoog op die klippe in Kaapsehoop gaan sit. ‘n Perd wat my telkemale gejaag het, kom toe opgeklim. Hy kom staan toe by ons amper asof ons Vader sê, moenie huil nie.”
Nadat die dippery verby is, stap Van Niekerk na die gevaarlike draai op die Ngodwana-pad om motoriste te waarsku om nie te stop om die perde te voer nie. Hier het al vele botsings (veral in mistige weer) plaasgevind.
Een van haar gunstelinge, Mr J, is juis hier raakgery. Hy was 11 jaar oud en sy het hom vanaf sy kleintyd as ‘n vul groot- gemaak.
Die laaste wandeling is na die peerboordpiekniekterrein, ‘n gewilde besoekplek, om te kyk of daar nie enige beseerde perde rondstaan nie.Van Niekerk voel dat sy nie veel deur die jare bereik het nie.
“Ons het verlede jaar vier beseerde hingste moes deurtrek omdat die publiek my by die
DBV aangegee het. Ons sou liewer die natuur sy gang wou laat gaan het. Ek is dikwels vasgevang tussen wat my hart vir my sê en wat die publiek verwag.”
Die sonsondergang se strale raak aan die klippe in die veld rondom Kaapsehoop. Van Niekerk staan huis se kant toe en stap agter die wilde perde aan wat teen skemer soms ‘n draai deur die dorpie loop.
Sy kry net nie meer tyd om te gaan ry nie en het onlangs selfs haar eie perde weggegee.
“Dalk as ek eendag aftree, kry ek weer kans om self te ry,” sê sy verlangend.
Sluit aan by die Kaapsehoop Wilde Perde Facebookblad en ondersteun van Niekerk en die wilde perde

