Hard newsLocal newsNews

Nie vir sensitiewe aanlyners nie: Nagmerrie 24-uur vir Laeveld se diereliefhebbers

Spoed bly 'n wesenlike gevaar vir Mbombela se stedelike wildlewe sowel as vir troeteldiere. Die pasafgelope 24-uur was weer eens 'n nagmerrie vir diereliefhebbers van Mbombela en omgewing.

MBOMBELA – Drie dieretragedies wat die afgelope 24-uur afgespeel het, laat Laevelders kop skud oor die skade wat onverskillige,  wrede en onnadenkende mense aan die diererykdom aandoen.

Twee dae gelede is ‘n kat in ‘n tref-en-trapongeluk getref in Von Braunstraat, Steiltes. Marcelle Hoffmann, inspekteur van die DBV Nelspruit, sê dat die karkas vermoedelik daarna op die gras voor ‘n huis neergegooi is. Dit blyk asof oproepe aan die Mbombela Munispaliteit om die karkas te verwyder deur inwoners van die spogbuurt nie suksesvol was nie.

Die kat se karkas is toe vermoedelik aan die brand gesteek.

“Ek vermoed die kat het ontbind en dit het lastig geword vir ‘n inwoner. Dit lyk of hy twee dae daar gelê het. Hierdie soort wreedheid dui op ‘n persoon wat nie diere die waardigheid van ‘n behoorlike verwydering van ‘n karkas gun nie. Ons wil ‘n beroep doen op enige ooggetuies van hierdie onreg teenoor die dier om na vore te kom,” sê Hoffmann.

Sy versoek enige bestuurder wat ‘n dier raakry om op sosiale media-blaaie aan te meld indien ‘n dier doodgery is sowel as om die adres aan te gee of dit net iewers by ‘n nabye huis of besigheid aan te meld sodat dit nie lei tot sulke onaanvaarbare gedrag nie.

Hoffmann is ook bekommerd oor wildlewe soos dwergmuishondjies wat doodgery word op stads- en dorpspaaie sowel as oor bokke wat naby reservate deur motoriste beseer word.

Lees meer oor ‘n vorige wrede voorval toe ‘n katskieter Mbombela se katte getreiter het.

‘n Ooggetuie het vanoggend aan Laevelder vertel van ‘n duiker wat vroeg vanoggend deur ‘n motor doodgery is wat teen ‘n hoë spoed oor die kruising van Skoenlapper- en Sonbesiestraat gejaag het.

“Dit is so onnodig want almal in die omgewing ry stadig omdat dit juis naby die reservaaat is. Dit neem net een spoedvraat om die lewe van so ‘n kosbare dier te neem, “ het sy ontsteld gesê.

Danielle Carstens, voorsitter van Wessa Laeveld, sê dat sy onlangs oor ‘n kort tydperk op ‘n verlamde stinkmuishond, beseerde valke en gestampte duikers op Enos Mabuzarylaan afgekom het.

“Al hierdie diere is raakgery, maar nie doodgery nie. Hulle het aansienlik gely.”

Carstens be-oog om met lede van die vereniging ‘n projek aan te pak om stedelike wild te beskerm en oplossings soos meer spoedhobbels of meer oop padskouers in werking te stel.

Dit is ook onnadenkendheid wat moontlik indirek tot die dood van een van die gesogte wilde perde van Kaapsehoop gelei het.

Die perd, Stokstert (regs), het gister aan dunkopsiekte gevrek in Kaapsehoop.

Reinette van Niekerk van Kaapsehoop Wild Horse Rescue het aan Laevelder gesê dat ‘n geliefde hings van die trop, Stokstert, gistermiddag laat neergeslaan in die dorp se strate terwyl toeriste nog besig was om foto’s van hom te neem.

Die sewejarige hings het aan dunkopsiekte gevrek. Hierdie siekte word deur muggies van perd tot perd  oorgedra. ‘n Perd toon bykans geen simptome van hierdie siekte totdat dit ineens toeslaan nie.

Indien die immuniteitstelsel nie sterk is nie, sal die siekte vinnig die dier verswak. Daar is net ‘n 10 persent kans op oorlewing as die perd eers tekens daarvan toon. ‘n Perd wat verder die gevreesde Wesnylsiekte onder lede het, staan geen kans nie.

Met dikkopsiekte weer het ‘n perd ‘n 40 persent kans op oorlewing.

Van Niekerk het al dikwels in die verlede ‘n beroep op besoekers aan die dorp gedoen om nie die diere te voer nie. Mensekos laat dikwels die diere van hul normale eetpatroon afwyk en laat hulle kos in asblikke in die dorp soek. Hierdeur verswak hul imuunstelsel.

“Ons het almal goeie herinneringe aan Stokstert wat so lief was om met ‘n ander geliefde hings Mr. J te baklei. Hy was ‘n sterk perd en dit is vir ons almal ‘n skok dat hy inmekaar gesak het.”

Van Niekerk moes sorg dat die karkas onmiddellik in die plantasies ingesleep word aangesien dunkopsiekte erg aansteeklik is. Komatiland Forestry het haar bygestaan om die karkas so gou as moontlik te begrawe.

Lees meer oor hoe spoedvrate ook die wilde perde trop uitwis

  • Skakel die DBV Neslpruit indien jy onregte teen diere sien geskied : 013 753 3582

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button