Boekreeks oor Kruger Wildtuin se geskiedenis roep herinneringe op
'Mnr Wildtuin' se aangrypende boekreeks oor die Nasionale Kruger Wildtuin is weer eersdaags beskikbaar.
NABOOMSPRUIT – Toe “Mnr Wildtuin” oftewel die vorige hoof van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW), dr. Salomon Joubert, se eerste uitgawe van sy waardevolle feitelike trilogie oor die NKW, The Kruger National Park – A History, die eerste keer in 2007 verskyn het, was dit binne 18 maande verkoop.

Ook die tweede uitgawe van 500 eksemplare was binne vier maande uitverkoop.
Die goeie nuus is die topverkoper se nuwe druk van die tweede uitgawe is vanaf die einde van Februarie weer te koop.

Die reuse liefdestaak sorg dus nou weer dat een van ons voorste stemme in die bewaringswêreld se filosofieë, kennis sowel as die lofwaardige geskiedenisfeite van drie era’s in die wildtuin, aan ‘n nuwe geslag bekend gestel kan word.
Joubert, parkhoof van 1987 tot 1994, en nou inwoner van Naboomspruit, erken maklik dat met die skryf van die drie werke het daar selfs vir hom “nog openbarings oopgegaan.”
Hy het sy loopbaan in die KNP as seksie-veldwagter in 1964 begin en as parkhoof uitgetree in 1994.
Hy beskryf sy werke as “glad nie lekker verhaaltjies nie, maar eerder as ‘n blik op elke era se uitdagings.”

Daarin vind jy die denkwyses agter die opstel van ekologiese planne, hoe natuurbestuursbeleide deurlopend gevorm en verander het en met watter toewyding soveel groot geeste deur die jare hiertoe bygedra het.
Joubert kan met gesag skryf want hy was met vele aspekte betrokke soos navorsing, lugsensusse, uitdunstrategieë, veld- en brandbestuur sowel as grensveiligheid.
Daar is ook antwoorde tot ‘n era wat in 1994 eindig op die duisende algemene vrae waarmee Kruger-liefhebbers in hul harte rondloop. Treffend is die blik op die laat 1800’s toe die konsep van natuurbestuur nie bestaan nie en die dinamiese ontwikkeling in denke en strategieë om stropers vandag te beveg en die veld te bewaar.
Kyk na ‘n video met swart en wit foto’s oor die NKW in dae van weleer.
“Die boeke wys op die voortdurende soeke na oplossings,” verduidelik Joubert.

Internasionale bewaringsdebatte word bespreek sowel as die geskiedenis van hoe natuurbestuursdenke ontwikkel het, iets waartoe Joubert ‘n groot bydrae gemaak het. Die teks word goed aangevul deur geskiedkundige foto’s.
Hy voel vandag is vele van die behoeftes rondom die KNP intenser as in die verlede soos die “geweldige behoeftes aan grond en die hoë verwagtings daarrondom.””
Hy meen verder omgewingstrydkwessies soos klimaatskommelings is meer fel, maar dat ‘n blik op die verlede kan help om die pad vorentoe duideliker te maak. “Kom ons leer daaruit.”
• Vir alle navrae: Kontak dr. Joubert by scj.joubert@gmail.com. ‘n Stel van drie getekende volumes kos R1500. Aflewering kan einde April 2017 geskied. Posgeld is R150.
Kliek hier en lees meer oor die geskiedenis van die paaie van die wildtuin.
