Hard newsLocal newsNews

Kruger nou nog groter met oosgrens wat skuif

Die Nasionale Krugerwildtuin kan baat vind by die eerste privaat grond wat deel van die Groter Limpopo-oorgrenspark word. Kenners meen dit is een stap nader aan die "oop" ekosisteem wat al sedert 2000 be-oog word.

SKUKUZA – Daar is ‘n moontlikheid dat grensdrade kan val en olifante en ander diere vryer heen en weer sal kan beweeg. Die vergroting van die Groter Limpopo-oorgrenspark (GLO) aan die oostelike grens van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) sal dit moontlik maak.

In die stadium is daar nog ‘n heining van 180 kilometer tussen die NKW en Libombos-bewaringsgebied (LB) in Mosambiek wat van die Olifantsrivier tot Krokodilbrug strek.

Die gedeelte wat toegevoeg word tot die Oorgrenspark is in geel aangedui op die kaart.

Die verwydering van die grensdrade is ‘n besprekingspunt vir die gesamentlike bestuurskomitee (GB) vir die toekoms.

Nege konsessies wat saam die LB vorm en 240 000 hektaar beslaan, is by die GLO gevoeg.

Dit het onlangs geskied kragtens ‘n verdrag wat in 2000 tussen Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe gesluit is. Hierdie gebied is die eerste privaat grond wat deel van die oorgrenspark word. Mosambiek word ook hiermee die eerste land wat grond tot dié park toevoeg.

Mnr. Bartholomew Soto, direkteur van die nasionale Administrasie van Bewaringsareas in Mosambiek tydens die Oorgrensparkberaad. Foto: Vredesparkstigting

Die deurbraak is deur die Vredesparkstigting tot stand gebring. Die ooreenkoms is op 24 Februarie in Maputo deur regeringsverteenwoordigers van beide lande onderteken, ‘n geleentheid wat deur die GB gereël is.

Mnr. Paul Boucher, programbestuurder vir Oorgrens-bewaringsgebiede van die Vredesparkstigting, sê dat dit nie soseer grense is wat so bewaar word nie, maar eerder landskappe.

“Die strategie is om ‘n buffer vir die Kruger te vorm,” verduidelik Boucher.

Die proses en werksaamhede van die gesamentelike komitee is deur die Vredesparkstigting beheer en het R1,5 miljoen gekos. Van die donateurs wat bydra tot die werksaamhede van die Oorgrenspark is Deutsche Bank en USAID.

Een van die konsessionarisse, Singita, is sterk ten gunste van die toevoeging.

Mnr. Mark Whitney, woordvoerder vir Singita, het aan Laevelder gesê dat met grensdrade nie meer staande nie, daar ‘n groter verskeidenheid van diere is wat oor ‘n wyer gebied kan rondloop. Dit is tot die voordeel van biodiversiteit en toerisme.

“Dis goeie nuus vir olifante en die NKW. Dit neem van die druk wat die olifante op die park plaas weg,” meen Whitney. “Dit help ons om ons doel te verwesenlik om een groot park te skep.”

Olifante sal heen en weer kan beweeg oor die oopgestelde oosgrens met die Oorgrenspark.

Hy wys ook daarop dat gedeelde intelligensie oor stropery tussen die partye die antistropingstryd meer suksesvol kan maak.

Vir mnr. Piet Theron, internasionale koördineerder van die Vredesparkstigting en sameroeper van die GB, versterk die inlywing van die bewaringsarea die gebiede rondom die oorgrenspark. Die Stigting en die NKW het verskeie gesamentelike projekte.

LEES MEER oor sulke projekte

 

“Die groter landskap bevoordeel toerisme, gemeenskappe en die antistropingstryd. Dit is die oop stelsel wat die NKW so lankal soek,” sê Theron.

Die Libombos-bewaringsgebied is in die hart van die stropingsvelde.

Die area waarmee die oorgrenspark uitgebrei word, lê waar die stryd om renosterbewaring op van sy felste woed. Volgens Theron is die samewerking tussen die drie groepe om stropery in hierdie gebied te bekamp, reeds goed. In 2013 het 68% van renosterstropers uit Mosambiek gekom. Dit het verlede jaar tot 24% afgeneem.

Volgens mnr. William Mabasa, waarnemende hoof van kommunikasie van SANParke, verwelkom die Kruger die besluit van die twee regerings om die ruimte vir wildlewe aan die oostekant van die NKW te vergroot.

“Bewaring is die wenner in hierdie opsig,” het Mabasa gesê.

LEES MEER oor waar die grensdrade reeds aan die noorde van die NKW vir 43 kilometer oop is na die Oorgrenspark

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button