“Televisie kyk het my rowers help fnuik,” vertel slagoffer buite hof
Hy het op televisie gesien hoe om rowers te uitoorlê.

MBOMBELA – Die slagoffers van die vermeende reeksrower mnr. Madala Ngwenyama en sy medebeskuldigde, mnr. Bheki Mhabane, het onlangs in die Nelspruit Streekshof teen hulle getuig.
Mnr. Heino Hattingh en mnr. Christopher Weldhagen het die gebeure van twee gewelddadige rowe wat in 2013 gepleeg is, beskryf.
Hattingh en Weldhagen het Laevelder na die hofverskyning te woord gestaan. “Hulle het op 5 Januarie by ons toegeslaan,” het Weldhagen gesê. Dit was omstreeks 20:00. Terwyl hy saam met vriende in die voorhuis gekuier het, het rowers hul kluis oopgebreek en vuurwapens en ammunisie gesteel.
Lees ook: ‘Lekkerbekke’ meet by accident
Weldhagen se geweer is daarna in ‘n tweede voorval op 11 Januarie gebruik. Hierdie keer was Hattingh die slagoffer. Hy het op die Vergenoeg-pad net buite Witrivier gewoon. Twee gewapende mans het op die kleinhoewe waar hy gebly het, toegesak.
“Dit was omstreeks 02:00 toe ek die agterdeur oopgemaak het om iets te gaan haal,” het hy aan Laevelder gesê. Twee gewapende mans het hom oorrompel en binne-in die huis vasgebind. Hy het homself losgewriemel, maar die rowers sou weer probeer. Hierdie keer het Hattingh skielik iets onthou wat hy op DStv se Discovery-kanaal gesien het.
Video: Hondeheld deur koedoe gegaffel
“‘n Insetsel het verduidelik hoe ‘n mens, deur jou bene reg te kruis wanneer iemand jou vasbind, ‘n rower se touknope oneffektief kan maak. Ek het my bene op so ‘n manier gekruis dat die toue wat hulle om my gebind het, van my bene afgeval het toe ek dit reguit maak,” het hy gesê. Die mans is in een van sy huis se vertrekke in en Hattingh het stilletjies na sy ouers se huis daar naby spore gemaak.
Sy pa, mnr. Anton Hattingh, het ‘n vuurwapen gegryp en is na Heino se huis toe. “Die rowers het skote afgevuur en ek het teruggeskiet. Een van hulle – Ngwenyama – is in sy nek gewond,” hetAnton gesê. Die boewe het hierna op die vlug geslaan met ‘n televisie, selfoon en ‘n karradio.
Ngwenyama is kort na die voorval gearresteer. Dit het geblyk dat hy op daardie stadium reeds van ‘n ander roof beskuldig is en op borg was ten tye van die aanvalle op Hattingh en Weldhagen. In daardie saak is hy egter op ‘n mindere klag skuldig bevind.
Die Hattingh- en Weldhagen-sake sal op 27 Maart voortgaan.
Sien ook hierdie video wat verduidelik hoe om jouself uit ‘n taai tamelêtjie te wikkel:
