Minibos-Makietie is om die draai
Vryf solank die partytjieskoene blink en omkring die datum vir die Minibos-makietie want daar gaan gebraai en gedans word in die oortreffende trap.

MBOMBELA – Die aftel na Innibos begin op Vrydag, 19 Mei met die jaarlikse programbekend-stelling en gratis konsert by Hoërskool Bergvlam. Kurt Darren en die Campbells is die kunstenaars wat vir die wysies gaan sorg waarop die vlugvoetiges hul danspassies kan uithaal op ‘n lekker groot dansvloer onder die sterre. Pieter Koen is ook daar om te sorg dat daar nie ‘n vervelige oomblik sal wees nie.

Die manne en vroue met die tange in die hande moet ook regstaan, want daar gaan (weer!) gebraai word. Dié keer nie om die wêreldrekord vir die meeste braaiers te verbeter nie, maar om die Laeveldse braaikoning(in) aan te wys. Boonop gaan niemand anders nie as Jan Braai die topbraaier van die aand aanwys, dus sal daar behoorlik uitgehaal en gewys moet word.

Of jy nou graag jou maatskappy of saam met ‘n klomp pêlle wil inskryf, sorg dat die bobaasbraaier onder die lot is want sy of haar vleisie gaan beoordeel word. Die braaiers word in 28 “braaihokke” ingedeel waar almal kan saamkuier en waar beoordelaars tussen 18:00 en 19:00 die vier finaliste sal aanwys. Hulle sal dan hulle slag onder die wakende oog van Jan Braai op die kole moet wys.

LEES OOK: Innibos gaan ‘n trappie verder met aanlynwinkel
Die Laeveld-braaikoning(in) word om 21:00 aangekondig en slaan ‘n vuurwarm prys los. Nog groot pryse kan gewen word as jy jou in die rooiste rooi tooi vir die makietie. Daar is geen spesifieke tema buiten die kleur nie, maar die anonieme beoordelaars sal deur die loop van die aand deur die skare beweeg om te bepaal wie almal beloon sal word vir hul kreatiwiteit en feesgees. Is jý dalk die Laeveld se Rooirokbokkie?

Die gedrukte Innibos-feesprogram word dié aand vir die eerste keer beskikbaar gestel met alles wat jy wil weet oor hoe Innibos vanjaar ‘n stappie verder gaan. Weekkaartjies vir toegang tot die feesterrein sal teen ‘n afslagprys van R400 verkoop word. Jy kan dus ‘n volle R100 spaar.
LEES OOK: Bespreek jou Innibos kaartjies vandag

So, kom skud jou biscuit, sokkie tot laatnag en warm solank op vir Innibos 2017!
Registrasievorms vir die braaikompetisie kan gekry word by Alison Linde van Innibos, e-pos alison@innibos.co.za of skakel 013 741 5294. Inskryfgeld is R500.

