Hard newsLocal newsNews

Ervare loods bring sy kant vir forensiese spanne

Tokkie Botes ry vrywillig met sy Bell 206 forensiese spanne aan na misdaadtonele waar stroping by betrokke is. Sy sin vir regverdigheid en geregtigheid is sy dryfveer.

SKUKUZA – As vrywillige vlieënier het Tokkie Botes sedert 2013 sy Bell 206-helikopter nou al langs meer as 2 000 renosterkarkasse in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) en ander reservate staangemaak om spanne forensiese kundiges op en af te laai.

Hy het meer as 500 vliegure hiervan self geborg.

KYK hoe forensiese spanne by ‘n wildlewe misdaadtoneel te werk gaan

Die onselfsugtige ekokryger het met hierdie taak begin nadat hy en ‘n vriend wildtellings vanuit die lug aangepak het. Hy het die wildtuinbestuur genader en aangebied om sy tyd, brandstof en die helikopter te borg.

“Ek glo daaraan dat ons mekaar voortdurend moet vra hoe ons mekaar en die omgewing kan help. Wanneer mense begin praat, kan dinge begin gebeur,” sê die ewige pragmatis.

Toe hy by die wildtuinbestuur by die aanvang gehoor het dat sy eertydse helikopter, ‘n Robertson 44, te klein is om renosters of renosterwesies in nood te vervoer, het hy uit sy eie die nuwe Bell aangeskaf.

Botes glo in geregtigheid. Vir hom is daar net een plek vir stropers: agter tralies.

Sy toewyding om bewysstukke te help vind om hierdie doel te verwesenlik, kom uit ‘n diep bewustheid dat stropers ook verhoed moet word om weer dieselfde misdade te pleeg.

Forensiese spanlid besig om met ‘n metaalverklikker na ‘n koeël te soek by ‘n renosterstropingstoneel.

“Dis al hoe ons in hierdie stryd teen stropers voor gaan kom, deur toe te sien dat diere ook voordeel trek uit hoe ons hierdie euwel bekamp, doelgerig en met voortreflikheid. En as dit beteken ek moet van dooie renoster tot dooie renoster vlieg, dan doen ek dit,” sê die sakeman van Hartebeespoort.

Hy is ook gemoeid met die bewaring van olifante en het al dikwels hiervoor die Bell se neus in die rigting van Malawi en Zambië gestuur.

Dit is die wrede metodes waarmee diere tydens strooptogte dood gemartel word, wat Botes telkens opval en ontstel as hy land om die spanne af te laai.

“Soms is die renosters se hakskene afgekap. Meesal word hulle gelos om dood te bloei. Dit maak mens egter net meer vasberade om die aandadiges aan te keer. As jy elke dag voor jy gaan slaap, kan voel jy het vandag ‘n verskil gemaak, kry die lewe betekenis.”

LEES MEER oor hoe die DNA op bewyssstukke van stropingsmisdaadtonele aangewend word in hofsake

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button