Al die Krugerveld is vrolik
Moeder Natuur se groen vingers werk geil in die Nasionale Krugerwildtuin na die goeie reën maar is die veld voedsaam vir die diere?

SKUKUZA – Na die vorige groot droogte in 1991/92 in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) het die veld drie tot vyf jaar geneem om te herstel.
Na die pasafgelope paar weke van goeie reën lyk die veld en damme reeds veel beter, maar dit is nog ver van algehele herstel na die onlangse droogte.
Freek Venter, bewaringsbestuurder van die NKW, is positief en sien die groter prentjie raak. Hy is immers al amper 40 jaar by die wildtuin se bewaringsbestuur betrokke.
“Grasvelde het ‘n natuurlike ingeboude terugbonskrag. Die bokkies is nou in die sewende hemel,” sê Venter.

Dis nou als goed en wel indien dit so groen en geil is, maar hoe voedsaam is die veld vir die diere?
“Daar is tans genoeg voedsame wilde kruid en gras vir hulle. Die pionierspesies, oftewel die opportunistiese groeiers wat net so na die reën opslaan, is goed versprei en nie net rondom riviere nie. In plekke waar die veld kaal was, is daar ook nou baie meer kruid,” verduidelik Venter.
Kan die grasvreters lekker weglê hieraan of trek hulle maar soms hul neuse op?

Dis nie net die grasse waarna bewaringskundiges na ‘n droogte oplet nie. Ook die grondgehalte so na die droogte kan kopsere veroorsaak.
Grondgehalte is nie orals dieselfde nie, maar dit troos hom dat daar orals fonteintjies is wat uitloop na die reën.
“Sulke water wat uitsyfer wys dat die grond aan die bokant versadig is met water en dit lei tot sterk groei in die grasse.”

“Die Kruger is tans ‘n vlinderparadys. Die omstandighede na die reën is ideaal vir ‘n bevolkingsontploffing en orals kry jy pragtige konsentrasies skoenlappers,” sê Venter.

LEES MEER oor een van die NKW se ervare veldkundiges wat onlangs afgetree het.
