Nuwe Skukuza-hof sorg vir vinniger vonnisse teen stropers
In 2010 was daar vyf renosterstropery-sake per dag in Skukuza se distrikshof verhoor. Die pasafgelope Woensdag was daar 27 sake op die rol. 'n Nuwe streekshof is onlangs ingestel om die lading te verlig en dien as verhoorhof.
SKUKUZA – Die nuwe streekshof in die Krugerwildtuin werp reeds vrugte af in die stryd teen renosterstropery.
Sedert die inwerkingstelling van die hof op 7 Maart is vyf sake afgehandel.
“Die Skukuza-hofsittings versterk ons hand in die stryd teen stropers. Voeg hierby dat die staatsaanklaers by die hof vernuftig te werk gaan en vonnisopleggings nou ‘n patroon begin vorm, dan kan ons vertrou om ‘n werklike verskil te begin maak,” sê adv. Anthony Mosing, adjunk-direkteur van die Nasionale Vervolgingsgesag.

Die distrikshof sal voortgaan om sake op ‘n Woensdag te verhoor.
Die streekshof is as verhoorhof ingestel om die lading ligter te maak. Sittings geskied nie elke dag nie, maar periodiek.
Toe staatsaanklaer me. Isabet Erwee in 2010 by die distrikshof op Skukuza aangesluit het, was daar maar slegs vyf sake elke Woensdag op die hofrol.

Die pasafgelope Woensdag was daar 44 beskuldigdes in 27 hofsake betrokke, waarby stropery en renosterverwante oortredings soos onwettige betreding,
by almal ‘n rol gespeel het.
KYK hoe ‘n wildsmisdaad forensies ondersoek word.
Drie van hierdie sake was sogenaamde “rooi sake”, oftewel gevalle waar dooie renosters ter sprake kom.
Volgens waarnemers is daar egter nog tekortkominge wat aangespreek kan word. Meer toegewyde betrokkenheid van Legal Aid en regsverteenwoordigers is nodig sodat sake vlot en op tyd verloop.
Erwee meen die aanklaers het nog meer hofdae nodig aangesien die Woensdaghof (distrikshof) inderwaarheid ‘n kanalisasiehof is wat konsentreer om onder meer sake wat nog ondersoek word uit te stel en op borgtog fokus.
SIEN hoe bewysstukke verkry word in renosterstropingsake
